Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Daar wag 'n opwindende tyd vir die 21-jarige Naelon Andrews van Conville nadat hy Donderdag amptelik 'n kontrak met Universal Music onderteken het.
Dit was slegs 'n week nadat Bino Boshoff, hoof van Afrikaanse musiek by Universal vir Naelon op Facebook raakgesien het waar hy sing. Boshoff het Donderdag met die kontrak van Pretoria na George gevlieg en Andrews in Woolworths Garden Route Mall se koffiewinkel ontmoet. Die ondertekening het daar plaasgevind in die teenwoordigheid van plaaslike sanger en liedjieskrywer Michael Lindt en sy vrou Marelize.
Jessica Basson wie se selfoonvideo van Andrews binne enkele dae meer as 600 000 kyke gekry het, was ook daar.
Andrews word ná Paasnaweek na Universal se ateljees gevlieg waar toetsopnames gemaak sal word en hy vertroud kan raak met die opset en omgewing waar hy gaan werk. Boshoff sê hulle sal hom mentor en wil binne drie maande 'n enkelsnit en video vrystel. Sy kontrak sluit ook optredes in. "Ons wil graag dat Naelon oorspronklike liedjies sing en hy gaan ook touwys gemaak word om liedjies te skryf. Hy sal saam met verskeie liedjieskrywers werk, onder andere saam met Michael."
Universal het Lindt se samewerking gevra om die jong sanger onder sy vlerk te neem en sy talent te help ontwikkel. Lindt sal hom ook op plaaslike bodem aan die publiek bekendstel deur inskakeling by konserte.
Kyk 'n video hieronder.
Naelon Andrews teken die kontrak van Universal Music. By hom is van links: Bino Boshoff, hoof van Afrikaanse musiek by Universal Music, Michael Lindt en Jessica Basson. Foto's: Alida de Beer
Boshoff sê Andrews het 'n "fantastiese" stem. "Ek het hoendervleis gekry toe ek hom hoor. Ek het toevallig op dieselfde dag na die video gekyk toe Ruben van GrootFM my bel om te vra of ek dit al gesien het." Andrews is opgevlieg na Pretoria vir 'n lewendige onderhoud in GrootFM se ateljee, waar hy ook gevra is om te sing. Boshoff was beïndruk met hoe kalm en natuurlik hy in die situasie was. "Hy is nie bang vir die kollig nie."
Andrews glimlag maklik en breed vir die kamera. Hy sê hy word nie gepla deur vlinders in sy maag nie. Hy is net opgewonde oor die vooruitsig dat hy kan sing - die ding wat hy die graagste doen.
Lees vorige artikels hieronder:
- Plaaslike jongeling onderteken platekontrak
- Platekontrak vir singende voetganger
- Platekontrak vir singende voetganger
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'