Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n "Gevoel" dat hy hardop moet begin sing terwyl hy, kitaar in die hand, te voet onderweg was in die middedorp, het gesorg dat 'n gospelsanger van George, Naelon Andrews (21), se verborge sangtalent in 'n video op sosiale media beland het.
Twee dae later het 'n platekontrak in sy skoot geval.
Hy vlieg oor twee weke Pretoria toe waar Universal Records saam met hom aan 'n album gaan begin werk.
Andrews se sang het kantoorwerkers se ore laat spits toe hy Dinsdag by hul kantoorgebou in Merrimanstraat verbygestap het. Hulle was so beïndruk dat hulle hom nader geroep het en gevra het om te sing. Jessica Basson het 'n video gemaak en op sosiale media gedeel.
Teen Woensdag het die video sowat 600 000 kyke gehad en Donderdag het Groot FM in samewerking met Universal Records hom opgevlieg vir 'n onderhoud met omroeper Ruben Delmage in die radiostasie se ateljee in Pretoria.
Daar het het hy drie liedjies gesing voordat Bino Boshoff, hoof van Afrikaanse musiek by Universal Music in die ateljee ingekom en Andrews verras het met die nuus dat hulle 'n platekontrak aan hom skenk.
Boshoff het in die radio-onderhoud gesê Andrews het "hope en hope talent" en sy stem gaan mense "wegblaas".
Andrews het in George grootgeword en gematrikuleer. Hy wil graag onderwys gaan studeer, maar bo alles wil hy sing.
Kyk 'n video hieronder.
Lees volgende week meer in die George Herald en aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'