GEORGE NUUS - Naelon Andrews het vandag, Donderdag 11 April, 'n kontrak met Universal Music onderteken, 'n week nadat die hoof van Afrikaanse musiek by die maatskappy hom op Facebook raakgesien het waar hy sing.
Boshoff het met die kontrak van Pretoria af gevlieg en Andrews in Woolworths se koffiewinkel ontmoet, waar die ondertekening plaasgevind het.
Andrews was vergesel van Jessica Basson wat die selfoonvideo van die singende jongman gemaak en op Facebook gedeel het. Dit het binne dae 600 000 kyke gehad.
Universal Music het die bekende plaaslike sanger en liedjieskrywer Michael Lindt genader om Andrews hier in George onder sy vlerk te neem. Hy was ook by die ondertekening, vergesel van sy vrou Marelize.
Boshoff het gesê Andrews gaan die week ná Paasnaweek na Universal se ateljees gevlieg word waar hulle toetsopnames sal maak en hy vertroud kan raak met die opset en omgewing waar hy gaan werk.
"Ons wil binne drie maande 'n enkelsnit vrystel. Ons sal graag dat hy oorspronklike liedjies sing en hy gaan ook touwys gemaak word om liedjies te skryf."
Sy kontrak sluit ook optredes in. In George se omgewing, gaan Lindt help om Andrews aan die publiek bekend te stel by plaaslike vertonings.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'