Video
TUINROETE, KAROO, HESSEQUA NUUS - Afrikaans.com het die afgelope paar weke woorde bymekaargemaak vir ’n baie unieke woordeboek. ’n Woordeboek met woorde vir al die vreemde en ongewone situasies wat ons tans beleef. Baie daarvan natuurlik met ’n goeie skeut humor daarby.
Van die woorde is in die media raakgelees, van die woorde is in die Woordeboek van Eietydse Afrikaans opgespoor, ander het Afrikaans.com self uitgedink en die res het die publiek gestuur as deel van ’n kompetisie. Die resultaat? Amper 100 koronaverwante woorde!
Koeshoes, ramafobie, moetgoed, boudgoud, tuinholler, koronaskimme, covidniers, klikaktivis en grendelgriep is enkele woorde wat deel uitmaak van Afrikaans.com se Covid-19-woordeboek. Nuuskierig oor die res?
Gaan kyk op Afrikaans.com onder Taalnuus en laai die PDF gratis af.
In die volgende paar weke wil Afrikaans.com die woordeboek uitbrei. As jy dus ’n unieke woord of woorde het om te deel, stuur dit en ’n beskrywing daarvan aan myafrikaans@afrikaans.com en raak so deel van koronageskiedenis - elke unieke koronaskepping kry jou naam by.
Die Suid-Kaap se fanaties-Afrikaans-patriot Magdel Myburgh* spoel weer lekker haar mond uit oor die grendeltydperk en is natuurlik self 'n groot ondersteuner van Afrikaans.com.
Kyk haar monduitspoel-video hieronder.
* Magdel is een van die aktrise cum joernalis Cornelle Carstens se vele bekende en gewilde alter-egos.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'