Update
GEORGE NUUS - Die bedrogsaak, wat vir die afgelope sewe jaar - sedert 2015 - oor 'n voormalige portefeuljeraadslid vir behuising, Henry Jones, se kop hang, beweeg nader na die einde toe.
Jones het vandeesweek (Maandag, 28 Februarie en Dinsdag, 1 Maart) in die streekhof verskyn waar hy self in sy saak getuig het.
Die saak is weer uitgestel tot 17 en 18 Maart weens Jones se swak gesondheid.
"Hy sal sy getuienis voortsit wanneer die saak weer voortgaan," het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag gesê.
Jones staar verskeie aanklagte van bedrog en 'n klag van diefstal in die gesig. Hy pleit onskuldig op al die aanklagte. Die aanklagte spruit voort uit beweerde behuisingsbedrog wat in sy termyn as raadslid plaasgevind het en waarby hy betrek is.
Jones het sy eerste verskyning in die George-landdroshof in September 2019 gemaak. Sy gesondheid is sedert dag een as 'n probleem in die hof gemeld en die saak is verskeie kere vertraag om Jones 'n geleentheid te gee om sekere operasies te ondergaan. Hy is 'n hartlyer, 'n diabeet en voorheen 'n kankerlyer.
Voor die hofsitting op Dinsdag 1 Maart het Jones gesê hy voel baie positief oor die saak. "Ek het my goed van my taak gekwyt," het hy gesê.
"Die laaste sewe jaar het gevoel soos 70 jaar. My gesondheid is nie goed nie. Hulle gaan my bene moet afsit want die bloed toevoer is nie meer lekker nie. Ek kan glad nie my voete voel nie. Dis moeilik om so lank in die hof te staan."
Jones het gesê hy is bly die saak begin nou einde se kant toe staan. "My kinders ondersteun my. Ek sê dankie vir die gemeenskap vir hul gebede."
Jones geniet regsverteenwoordiging van Legal Aid. Die landdros wat die saak aanhoor is Praglathan Govender en die staatsaanklaer is adv. Xolile Jonas.
Vorige artikels:
- COVID-Geval vertraag Jones-saak
- Pasaangeër vertraag Jones-saak se pas
- Jones-saak vorder nou na hibernasie
- Jones case to continue in March next year
- Jones-saak begin einde Maart
- Jones-saak gaan voort in die nuwe jaar
- Henry Jones nou onder huisarres
- Jones nou onder huisarres
- Jones dalk borgtog kwyt
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'