GEORGE NUUS - 'n Man wat diep spore in die mediese wêreld getrap het en 'n bekende inwoner van George, Barend Dreyer (97) is verlede Vrydag oorlede. Hy was algemeen bekend as Ben Dreyer. 'n Troosdiens is Woensdag (gister) gehou.
Volgens sy seun, dr. André Dreyer is sy pa op 20 April in 1922 op Olifantshoek gebore en het op Jacobsdal grootgeword.
Hy het later medies aan die Universiteit van Kaapstad studeer en in 1948 chirurgie in Edinburgh.
Hy het 'n intense belangstelling in die menslike sirkulasie-navorsing oor die bloedvoorsiening van die milt en lewer gehad.
In November 1955 het hy saam met 'n span in Londen dit reggekry om die hart te stop met 'n kalium inspuiting terwyl die pasiënt op 'n hartlongmasjien was. Dit is gedoen om die operasie te vergemaklik en die pasiënt se hart is daarna weer aan die gang gekry.
Hy het in 1958 by dr. W Kolff by die Cleveland-kliniek in Ohio, Amerika aangesluit waar gefokus is op kunsmatige hartkleppe. Hy het daarin geslaag om die kleppe se werking op film vas te lê.
In 1959 het hy die eerste hartlongmasjien na die Karl Bremer-hospitaal in Kaapstad gebring met die fokus op die herstel van aangebore hartgebreke en klepvervangings. Daarna het hy algemene chirurgie gedoen met die fokus op arteriële chirurgie.
Hy het twee Afrikaanse handboeke oor die chirurgie geskryf - die tweede een in samewerking met verskeie medeskrywers.
Buiten die mediese wêreld het hy ook intense belangstellings gehad in die buitelewe, sy gesin en kerk.
Volgens sy seun het hy soms vir die Springbokke ook gesê hoe hulle moet "speel".
Hy was getroud met Alba de Vries en saam het hulle in 1955 vir vier maande Europa per fiets verken. Hy word oorleef deur drie seuns, sewe kleinkinders en drie agterkleinkinders.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'