Omring met mense wat haar graag op die spesiale dag wou bederf, was Tannie Greta weer op haar stukke met haar storie-vertellery.
Haar geesdrif vir die lewe en dryfkrag vir haar gemeenskapsprojekte is onuitblusbaar. Sy besoek nog weekliks die Masizake-groepie bestaande uit Thembalethu-bejaardes en het onlangs in ‘n kerkkonsert opgetree om ‘n belangrike geestelike boodskap oor te dra.
Sy bly steeds die ’vonkelvrou’ soos twee jaar gelede toe sy verkies is as Group Editors se Mees Inspirerende Vrou van die Tuinroete en Klein-Karoo.
"Ek is geïnspireer deur my geloof in God en deur omgee-harte van my medemens. Ook deur die feit dat ek daagliks sien hoeveel goeie dinge nog rondom ons gebeur. En dat daar mense is wat tyd spandeer en onder moeilike omstandighede, nog steeds goed doen aan andere sonder om iets terug te verwag."
Tannie Greta en haar oorlede man, Burger Gericke, was ware pioniers op kultuurgebied en het ook hul stempel daar gelaat. Soos ‘n vriendin vertel - die fondasies vir ‘n liefdevolle gesin is gelê en vandag is daar 62 kinders, kleinkinders en agter-kleinkinders - sommer ‘n hengse klomp verjaarsdae om mee tred te hou.
Malvaprojek woel steeds
‘n Dag ná Tannie Greta se verjaarsdag was sy weer aan die woel en besig met haar malvaprojek.
Die somer is hier en daar moet weer malvas geplant word dat die biesies, of is dit nou malvas, bewe. Om die steggies krag te gee vir 'n vinnige wegspring, is beenmeel noodsaaklik.
Tuinroete Agri in George staan al 'n geruime tyd agter Tannie Greta se projek en vir CC Terblanche, assistentbestuurder, is dit 'n groot plesier om haar te help waar hulle kan.
Daar is al malvas geplant by die George-toerismekantoor, die Arts Theatre, naby Travelbugs Restaurant en oral op sypaadjies is daar beddings te sien.
Tannie Greta se droom is om die hele Yorkstraat toe te plant, sodat George nie net die "tuin" in die Tuinroete is nie, maar dat dit ook 'n toerismeaantreklikheid word.
Charlie Westman (links) is 'n groot ondersteuner en ywerige werker, by Tannie Greta en CC Terblanche, assistentbestuurder van Tuinroete Agri, George. Foto: Ken Gie
ARTICLE: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD JOURNALIST