GEORGE NUUS - 'n Man van Plaatjiestraat in Le Valia is omstreeks 18:15 op 5 Julie in sy huis oorval. Met die polisie se aankoms is die slagoffer (57), met wonde aan sy gesig en hande in sy badkamer aangetref.
Daar was bloedvlekke in die voorportaal en die leefvertrek van die huis. Die slaapkamer venster was stukkend en 'n bebloede stuk glas het op die vloer onder die venster gelê.
Volgens Conville-polisie se stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga, het 'n ooggetuie die verdagte in sy buurman se tuin opgemerk en hom met 'n windbuks afgeskrik.
Die verdagte, wat bekend is aan die slagoffer, het te voet gevlug. Teen druktyd was niemand in hegtenis geneem nie.
Die slagoffer is per ambulans na die George-hospitaal geneem. Niks is uit die huis gesteel nie. In 'n onverwante voorval op 30 Junie is 'n man van Herculesstraat in Parkdene oorval en met 'n onbekende voorwerp aangeval.
Die slagoffer (48) is deur polisielede in die straat aangetref met 'n oop wond aan sy kop. Hy is per ambulans na die George-hospitaal geneem.
Volgens Kriga het die hospitaal die polisie in kennis gestel dat die slagoffer ernstige breinskade tydens die voorval opgedoen het. Teen druktyd is niemand nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting rakende die twee voorvalle kan sersant Ralton Mafutu by 044 803 3302 skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'