Update
GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp-ma, Chantelle Domingo (32), en haar kêrel, Ray-Morgan Cronjé (32), wat albei teregstaan op die moord van Domingo se negejarige seun, Juwayne, het weer Donderdag 31 Augustus in die George-landdroshof verskyn waar die ma se borgtogaansoek voortgesit is.
Cronjé, wat aanvanklik nie vir borgtog wou aansoek doen nie het tydens hul vorige verskyning op Donderdag 3 Augustus, aangedui dat hy wél 'n borgtogaansoek wou bring.
Tydens Donderdag se verskyning het hy egter weer van plan verander.
Die twee beskuldigdes is op Saterdag 13 Mei in hegtenis geneem ná Juwayne glo met 'n sambok doodgeslaan is. Hy is na bewering ook verskeie kere hard neergegooi.
Die staat staan die borgtogaansoek teen, omdat die paartjie van moord met 'n gemene doel, 'n skedule ses oortreding, beskuldig word.
Bekentenis
Die ondersoekbeampte, wat reeds in Junie met haar getuienis begin het, het tydens verlede week se verrigtinge Domingo se bekentenis in die hof voorgelees.
In haar bekentenis het Domingo gesê Juwayne wou nie by sy ma en Cronjé bly nie, omdat hy te veel geslaan is.
Juwayne het talle kere van sy ma se huis in Jakarandastraat weggehardloop na sy ouma toe in New Dawnpark. Die dag wat Juwayne vermoor is, was hy ook by sy ouma en sy ma het hom glo teen sy sin huis toe geneem deur hom aan sy baadjie vas te hou en hom te forseer om saam met haar huis toe te gaan.
By die huis gekom is Juwayne glo deur sy ma aangesê om sy klere te pak. Toe Cronjé haar vra wat aangaan het sy vir hom gesê die kind wil nie meer by hulle bly nie want hulle slaan hom te veel.
Cronjé het glo daarna 'n sambok gegryp en die seun begin slaan. Twee ooggetuies was ook in die huis tydens die voorval en het glo te vergeefs probeer om Cronjé te stop.
In haar bekentenis sê Domingo dat terwyl Cronjé besig was om Juwayne pak te gee, sy stiefma hom vanuit die straat geroep het. Tot dusver kon die ondersoekbeampte nie die stiefma opspoor nie.
Toe hy loop het sy die kind aangesê om op die bed te gaan lê en sy het hom drie tot vier houe met 'n belt op sy sitvlak gegee.
Cronjé het glo daarna vir Domingo opdrag gegee om vir sy stiefma bier te gaan koop by 'n plaaslike taverne. Met haar aankoms by die huis na haar aankope, was Cronjé glo besig om met Juwayne te baklei.
"Hy het hom voor die bors gegryp en met beide hande opgetel. Hy het gesê hy gaan hom sommer op die vloer gooi. Hy het hom by sy bors opgetel terwyl ek op die bed gesit het en Juwayne agter my op die bed neergegooi," sê Domingo in haar bekentenis.
Cronjé het Domingo daarna glo winkel toe gestuur en met haar terugkoms het Juwayne in die kamer op die bed gelê.
Hy het glo nie gereageer nie en sy het bekommerd geraak.
Die ambulans is geskakel en volgens die bekentenis het 'n buurvrou onsuksesvol probeer om die kind se pols te vind terwyl die ma mond-tot-mond asemhaling op die seun toegepas het. Die ondersoekbeampte kon tot dusver ook nie dié buurvrou opspoor nie.
Die polisie het die twee in hegtenis geneem nadat hulle na die toneel uitgeroep is. Juwayne was reeds in 'n ambulans toe die polisie op die toneel aankom. Die kind het veelvuldige kneusplekke oor sy lyf, kop en bene gehad en is deur paramedici dood verklaar.
Ondersoekbeampte gee redes teen borgtog
In haar redes hoekom borgtog nie toegestaan moet word nie, het die ondersoekbeampte het onder andere aangevoer dat Domingo haar plig teenoor haar kind versuim het deurdat sy nie vir hulp gevra het of die aanranding teenoor haar kind gerapporteer het nie.
Volgens die ondersoekbeampte het Domingo talle geleenthede gehad om daardie dag die voorval aan iemand te rapporteer, maar sy het nie.
Domingo het glo ook aan ooggetuies gesê dat sy self al deur Cronjé met dieselfde sambok aangerand is. Sy het glo egter nooit aan die polisie gerapporteer of enige hulp uit die gemeenskap gesoek nie.
Die ondersoekbeampte het ook verskeie verklarings van familielede en lede uit die gemeenskap wat stel dat Domingo nie in hulle woongebied welkom is nie.
Die paartjie was glo slegs drie maande lank in 'n verhouding en het minder as 'n maand saamgebly.
Die ondersoekbeampte het gesê nog 'n rede waarom sy borgtog opponeer is omdat Domingo glo tydens die aanranding deur Cronjé op die oorledene met haar rug na hulle gesit het en geen poging aangewend het om Cronjé te stop of die kind te help nie.
Vorige artikels:
- Kindermoord: Kêrel doen aansoek om borgtog
- Kindermoord: Borgtog saak gaan steeds voort
- Ma se borgtogaansoek weer uitgestel in kindermoord
- Kindermoord: Borgtogaansoek uitgestel weens kragonderbreking
- Kindermoord: Ma doen aansoek om borgtog
- Honderde groet geliefde Juwayne
- Opvolg: Juwayne word Sondag gegroet
- Kindermoord: Ma en haar kêrel vas
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’