Update
GEORGE NUUS - Die ma van Pacaltsdorp, Chantelle Domingo (32), wat saam met haar kêrel, Ray Morgan Cronjé (32), van die moord op Domingo se negejarige seun, Juwayne, aangekla word, sê borgtogaansoek het vandag in George voortgegaan.
Cronjé het nie vir borgtog aansoek gedoen nie.
Die staat het Domingo se borgtogaansoek teengestaan omdat sy soos Cronjé, van moord met 'n gemene doel, 'n skedule ses oortreding, beskuldig word. Albei word deur Legal Aid SA verteenwoordig.
Die Pacaltsdorp-gemeenskap het ook 'n petisie teen Domingo se borgtog ingedien.
Die twee beskuldigdes is op Saterdag 13 Mei in hegtenis geneem ná Juwayne glo met 'n sambok doodgeslaan is. Hy is na bewering ook verskeie kere hard neergegooi.
Die polisie het die twee in hegtenis geneem nadat hulle na die toneel in Jakarandastraat in Pacaltsdorp uitgeroep is. Juwayne was reeds in 'n ambulans toe die polisie op die toneel aankom. Die kind het veelvuldige kneusplekke oor sy lyf, kop en bene gehad.
Paramedici het die seun op die toneel dood verklaar. Die beskuldigdes is later op aanklag van moord in hegtenis geneem.
Ondersoekbeampte getuig
Die ondersoekbeampte het Woensdag 28 Junie self agter die getuiebank ingeskuif en vandag met haar getuienis voortgegaan.
Die hof het gehoor dat volgens ooggetuies wat met die ondersoekbeampte gepraat het, het Domingo glo met haar rug na Cronjé gesit terwyl hy die kind met die sambok bygedam het. Sy het glo ook die seun drie of vier houe met 'n belt geslaan.
Domingo het glo later die aand die huis verlaat om winkel toe te gaan. Toe sy terugkom en Juwayne reageer nie toe sy hom vir aandete roep nie, het sy ondersoek gaan instel en hom op die bed aangetref. Hy was glo reeds dood.
In verklarings wat deur die polisie bekom is, sê Domingo se ma se bure, haar broer en haar ma se oppasser, dat hulle haar nie by die huis in Klokkiesblomstraat (New Dawn Park) wil hê nie en dat dit vir haar beter is as sy nie borgtog kry nie.
Juwayne het talle kere van sy ma se huis in Jakarandastraat weggehardloop na sy ouma toe. Die dag wat Juwayne vermoor is, was hy ook by sy ouma toe sy hom glo teen sy sin huis toe geneem het.
Weens 'n gebrek aan tyd kon die ondersoekbeampte nie haar getuienis voltooi nie. Die saak is uitgestel tot 10 Augustus.
Albei beskuldigdes bly in aanhouding.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’