Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Laerskool George-Suid en die Tuinedal-gemeente in Dormehlsdrift vat hande. Die skool het hulle preprimêre-fasiliteite uitgebrei en 'n huurooreenkoms met die kerk, wat geleë is op die hoek van Palgrave- en Kasteelstrate, gesluit om van hulle kantore te omskep in klaskamers.
Tydens George Herald se besoek op Maandag 15 Februarie het die gr. R-leerlinge duidelik hul nuwe aangepaste klaskamers geniet.
Volgens ingeligtes het die skool hierdie uitbreiding as 'n absolute noodsaaklikheid vir die gemeenskap beskou weens die geweldige uitbreiding van George.
Sas du Plessis, hoof van Laerskool George-Suid, wat in die loop van die oggend 'n draai daar gemaak het, het gesê uitbreiding en ontwikkeling is deel van enige organisasie. "Die Tuinroete en onmiddellike George-omgewing toon 'n groei in die getal mense wat na die gebied trek. Natuurlik het die aansoeke om plek in skole ook vermeerder en druk op die huidige kapasiteit geplaas."
'n Geleentheid is raakgesien vir uitbreiding op die perseel van die Tuinedal-gemeente. "Dit is 'n veilige, rustige omgewing en 'n groot genoeg plek waar kinders nog kan speel en ontdek in hierdie belangrike fase van hul ontwikkeling.
"Na deeglike beplanning is daar op vier klasse wat elkeen 25 kinders kan huisves besluit. Goed opgeleide onderwysers sal die onderrig en leer hanteer en hierdie klasse sal dan deel van die uitgebreide Laerskool George-Suid preprimêre klasse vorm. Eenvormige identiteit, tradisie en leefwyse," het Du Plessis gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Ds. Pieter van Santen, 'n leraar van die gemeente, het gesê hy is opgewonde oor die nuwe vennootskap. Beide Laerskool George-Suid en Tuinedal-gemeente deel 'n visie en strategie om die gemeenskap te dien.
Die kerkgebou van die Tuinedal-gemeente. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'