Update
GEORGE NUUS - "Ek is baie opgewonde, maar my senuwees het bietjie bedaar." So het Karin da Silva, 'n inwoner van George die week telefonies uit Pretoria gesê. Sy is een van die 12 finaliste in die realiteitsprogram, Ster Status.
Die wenner word Saterdagaand, 5 Desember, tydens 'n gala-aand aangewys. 'n Opname van die geleentheid sal gemaak word en dit word Dinsdagaand, 15 Desember, op DSTV se VIA-kanaal uitgesaai.
Dit het ten doel om vroue in die vermaak-likheidsbedryf te bemagtig. Die wenner sal aanstaande jaar die program op televisie aanbied.
Da Silva (34) is gebore en getoë in George. Sy het in 2004 haar skoolloopbaan aan Hoërskool Pacaltsdorp voltooi.
Sy het Maandag in Pretoria aangekom en is sedertdien druk besig. Dinsdag het sy die rokke aangepas wat sy Saterdagaand sal dra. Donderdag is sy en die ander deelnemers voor die kameras vir televisie-onderhoude. Daar sal ook onderhoude gevoer word met deelnemers se familielede.
Deel van die kompetisie is liefdadigheids-werk en die geld wat ingesamel word, word geskenk aan die Fabulous Girl Charity Foundation.
Die publiek sal hul gunsteling deelnemer (Public Choice Award) kan aanwys.
Mense wat vir Karin wil stem kan dit doen deur te SMS. SMS: KARIN DA SILVA na 36996. Dit kos R5 per SMS.
Vorige artikel: TV-program wink vir Karin
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'