GEORGE NUUS - 'n Groot eer het 'n inwoner van George, Karin da Silva, te beurt geval. Sy is 'n finalis in die realiteits-televisieprogram, Ster Status, wat Dinsdagaande om 18:00 op DSTV se VIA-kanaal uitgesaai word. Dit het ten doel om vroue in die vermaaklikheidsbedryf te bemagtig.
Sy vertrek Maandag 30 November na Pretoria waar die eindronde van die program, 'n gala-aand op 5 Desember, plaasvind. Dit sal opgeneem word en Dinsdagaand 8 Desember uitgesaai word.
Die wenner sal aanstaande jaar die program op televisie aanbied.
Die 34-jarige Da Silva is gebore en getoë in George. Sy het in 2004 haar skoolloopbaan aan Hoërskool Pacaltsdorp voltooi.
Sy het Dinsdag aan George Herald vertel dat sy baie opgewonde is. Dit is 'n lang pad wat sy geloop het.
"Dit was nooit 'n droom van my om 'n televisieaanbieder te word nie. Ek wou altyd 'n finansiële beampte geword het."
Na skool het sy die droom nagejaag en op die oomblik werk sy voltyds as 'n hoof finansiële beampte.
Sy het aanvanklik nie eers geweet van die program nie. Iemand het haar genomineer en ingeskryf. Enigiemand kon deelneem. Deel van die program behels verskillende uitdagings wat deelnemers moes aanpak. Dit is byvoorbeeld die aanbied van 'n televisieprogram en ook toneelspel.
Op 28 Februarie vanjaar het sy saam met ander deelnemers die eerste keer aan 'n werksessie in Pretoria deelgeneem. Hulle het ondermeer opleiding ontvang in sosiale media.
Kort daarna het die Covid-19-pandemie egter 'n stokkie voor alles gesteek en aanpassings moes gemaak word. In April is dit voortgesit en deelnemers moes aan sosiale media-uitdagings deelneem. Deelnemers moes elke dag take verrig en dan die uitkoms op sosiale media plaas.
Sy was suksesvol en het deurgedring na die volgende ronde.
In Junie is sy weer na Pretoria, maar moes eers 'n spesiale reispermit kry as gevolg van die inperkingsmaatreëls. Daar het deelnemers onder meer liefdadigheidswerk by 'n dierewelsynsorganisasie gedoen en ook deelgeneem aan fotosessies.
Deel van die kompetisie is liefdadigheids-werk en die geld wat ingesamel word, word geskenk aan die Fabulous Girl Charity Foundation.
Nou wag die groot aand. Sy hoop sy wen en is baie, baie senuweeagtig. "Ek wil graag vroue in verskillende aspekte bemagtig."
Haar familie is baie trots haar en hou almal styf duim vas.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'