GEORGE NUUS - Daar is geen sprake van samesmelting tussen die twee NG gemeentes van Tuinedal en George-Suid nie. So het ds. Pieter van Santen, voorsitter van die NG kerk se ring in George en leraar van die Tuinedal-gemeente Dinsdag gesê.
Die afgelope tyd is daar gerugte dat die twee gemeentes een gaan word.
Op die webtuiste van Tuinedal word verwys na "nouer samewerking met George-Suid gemeente".
Van Santen het by navraag oor die gerugte aan George Herald gesê, wat wel korrek is, is dat 'n taakspan van nege lede elk uit die onderskeie gemeentes, saamgestel is. Hulle moet 'n verslag opstel sodat die gemeentes se onderskeie kerkrade in November 'n besluit kan neem oor toekomstige nouer samewerking. Die proses word deur professionele fasiliteerders hanteer.
Volgens hom het die twee gemeentes tydens die inperkingsmaatreëls, in vennootskap 'n gesamentlike koskombuis bedryf. Dit het vrae laat ontstaan of daar nie ook ander wyses is waarop hulle kan saamwerk nie.
Ds. Johann Winterbach, leraar van George-Suid, het ook bevestig daar is nie sprake van samesmelting nie.
"As gevolg van Covid-19 is die kerkomgewing anders. Ons kyk hoe ons ons roeping beter kan uitleef en moontlik nouer met buurgemeentes kan saamwerk."
There is no truth in rumours that two Dutch Reformed congregations in George, Tuinedal and George South, will merge. They have however established a task team to look at ways in which the two congregations can work together.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'