Update
GEORGE VERKIESINGSNUUS - Die DA gaan probeer om die mag te behou in die Wes-Kaap op 8 Mei. As die party egter nie daarin slaag om ‘n volstrekte meerderheid te behaal nie sal hy nie met die ANC en die EFF saamwerk om aan bewind te bly nie.
Dit was Saterdag die boodskap van Alan Winde, die DA se premierskandidaat in die Wes-Kaap.
Hy het gepraat tydens die DA se laaste groot verkiesingssaamtrek in die oosstreek by die Conville-gemeenskapsentrum.
Die geleentheid is deur meer as 2000 mense van regoor die streek bygewoon. Onder die aanwesiges was verskeie senior DA-leiers waaronder Bonginkosi Madikizela, Anton Bredell, dr. Ivan Meyer en Donald Grant.
Die dienende premier Helen Zille kon nie die geleentheid bywoon nie omdat sy ander verpligtinge gehad het.
Verskeie van die sprekers het daarop gewys dat dit Vryheidsdag is en dat die eerste demokratiese verkiesing 25 jaar gelede plaasgevind het.
Winde het gesê 25 jaar na die begin van demokrasie in Suid-Afrika word daar ernstig besin oor die toestand in die land. Die ANC het die land agteruit laat gaan.
Die DA wil die mag behou en voortbou op die fondament wat deur Zille gevestig is. Die DA sal harder as ooit werk om ekonomiese groei te bewerkstellig en werksgeleenthede te skep.
Volgens Winde is daar baie partye wat vra vir kiesers se stemme.
Hy gewys op die uitnodiging wat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC gemaak het aan Julius Malema van die EFF. Magashule het Malema genooi om “huistoe te kom”.
Winde het gesê kan mens hulle indink wat gaan sal gebeur as Magashule en Malema saamspan. Die Wes-Kaap moet uit die hande van die ANC en EFF gehou word.
Lees vorige artikels hier:
- Winde praat oor Vryheidsdag
- Conville Gemeenskapsaal hou DA-vergadering
- Alan Winde on the campaign trail
- Premier Helen Zille motivates voters
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'