Update
GEORGE NUUS - Sy het haar eie wêreldrekord in die 50 m-vryslag vir downsindroom-swemmers twee keer op een dag verbeter met 'n tyd van 34,56 sekondes.
George se 16-jarige downsindroom swemsensasie, Minke Janse van Rensburg, kan wel nie hierdie winter haar land by die para-olimpiese spele in Tokio verteenwoordig nie, maar sy het steeds hope pret gehad tydens die kampioenskappe vir Suid-Afrikaanse swemmers twee weke gelede in Gqeberha.
Ten spyte van die feit dat sy steeds op 16-jarige ouderdom as junior kwalifiseer, hou Minke tans vier ope (alle ouderdomme) wêreldrekords - in die kortbad die 25 m- en 50 m-vryslag rekords, en in die langbad die 50 m- en 100 m-vryslagrekords.
"Sy word op die oomblik beskou as die vinnigste vroulike swemmer met downsindroom in die wêreld en sy sou verseker op pad Tokio toe gewees het indien die internasionale para-olimpiese komitee 'n afdeling vir downsindroom geskep het," het haar pa, Hennie Janse van Rensburg, verduidelik.
"Dit het ongelukkig nie gebeur nie, maar ons deel die vreugde van diegene wat kwalifi-serende tye vir hulle afsonderlike para-olimpiese en olimpiese klasse bereik het."
Wanneer downsindroom-atlete nie in kompetisies deelneem wat spesifiek vir atlete met downsindroom is nie, maar vir atlete met intellektueel gestremdhede (in die S14-klas), het hulle 'n fisieke nadeel, aangesien downsindroom 'n persoon se spiertonus en koördinasie beïnvloed.
Minke neem 'n blaaskans saam met 'n vriendin, Natalie Landman (19, regs), 'n swemmer van Bethlehem. Suid-Afrikaanse swemmers wat beide vir die para-olimpiese en -olimpiese spele wou kwalifiseer het op uitnodiging aan die kampieonskappe in Port Elizabeth deelgeneem. Foto: Anton Geyser
Groot eer
Die kampioenskappe het by die Newton Park-swembad in Gqeberha vanaf 7 tot 12 April plaasgevind en swemmers het op uitnodiging hieraan deelgeneem. "Dit was 'n gepaste geleentheid om die einde van die 2021-langbad-seisoen mee af te sluit," het Hennie gesê.
"Buiten die opgewondenheid oor die 50 m-vryslag downsindroom-wêreldrekord wat Minke tydens die uitdunne, en weer tydens die finale later die dag verbeter het, is ons tevrede dat sy ten spyte van 'n bietjie senuwees met die meeste items baie naby aan haar persoonlike beste tye geswem het."
Minke is op haar gelukkigste in 'n swembad saam met haar maats en haar afrigter, Sybeth Hughes. Sy stel haarself graag aan mense voor as "Minke die swemmer". Na vyf jaar se toewyding aan die sport vorm dit 'n groot deel van haar lewe, het Hennie verduidelik.
Dit was vir hom 'n riem onder die hart om te sien hoe sy dogter tussen ander kampioenswemmers in Gqeberha funksioneer.
"Sy het tuis gevoel en soos hulle, haar beste gegee - binne en buite die swembad. Minke was nie daar vir 'n vakansie nie. Sy het geweet waaroor dit gaan en na Swem Suid-Afrika se verwagting opgeleef," het Hennie gesê.
Hennie bedank die bestuurders Keith Jansen (Wes-Kaap para-olimpiese span) en Tadhg Slattery (Swem Suid Afrika se para-olimpiese sake) vir die uitnodiging en erkenning wat Minke vir haar rekords en goeie items ontvang het.
Minke Janse van Rensburg in aksie op 8 April tydens die vroue 50 m SA senior swemkampioenskap by Newton Park in Port Elizabeth. Foto: Anton Geyser
Vorige arikels:
- Minke (16) mik vir spele in Tokio
- Minke still doing swimmingly
- Minke verbeter haar eie wêreldrekord
- Sport body sinks swimmers' and other athletes' dreams
- Minke breaks open Africa Record
- Minke skitter met Wes-Kaapse Sporttoekenning
- Nou swem Minke wêreld aan die brand
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'