Update
GEORGE NUUS - Kollegas het Donderdag 5 November hulde gebring aan wyle AO Dewald Vorster (Vossie), ’n lid van die openbareordepolisie en ’n polisieduiker van George.
Die polisie het die gedenkdiens in die Outeniquasaal by sy gebiedshoofkwartier vir die Tuinroete in George gehou. Vorster is op 27 Oktober tydens ’n opleidingsoefening naby Robbeneiland by Kaapstad dood.
Sy vrou, Mariëtte, en hul driejarige dogtertjie, Nila, wat Dinsdag verjaar het, het die diens bygewoon. Sy ouers, broer, skoonouers en verskeie van sy polisiemakkers was ook daar.
Genl.maj. Phumzile Cetyana, polisiehoof in die Tuinroete, het gesê Vorster het op verskillende maniere baie mense se lewens geraak, en dat hulle dit nog lank ná die gedenkdiens sal onthou. Vorster het al die gemeenskappe in die Suid-Kaap met trots en waardigheid gedien.
Cetyana het gesê die dood kan soms vreemd wees. “’n Mens weet dat die dood ’n werklikheid is, maar wanneer iemand sterf, kan dit jou verward laat. Vorster se dood was onverwags.”
Cetyana het die aanwesiges gevra om na mekaar om te sien. “Ons weet nooit wanneer die dood gaan toeslaan nie. Ons moet elke dag voluit leef en dankbaar wees. Ons weet nie wat môre gaan gebeur nie.”
Hy het ook ’n oorsig gegee van Vorster se polisieloopbaan van meer as 23 jaar. In dié tyd het Vorster verskeie toekennings en medaljes ontvang. Hy was onder meer betrokke by die reddingspoging ná die Victoriastraat-gebouramp in George in 2024. Hy was ook ’n opgeleide gyselaarsonderhandelaar.
Vorster het onlangs help soek na die liggaam van wyle Saag Jonker, ’n bekende sakeman van Oudtshoorn wat in ’n rivier naby die dorp beland het.
Van sy kollegas het vertel watter wonderlike mens en leier Vorster was en hoe hy met toe oë kon lag. Vir hulle was hy ’n polisieman, ’n kollega en ’n vriend.
Dr. Willie Cilliers, Vorster se skoonpa, het later aan George Herald gesê dat Vorster Donderdag veras is.
“Dit is swaar tye vir die familie, maar ook tye van hoop. Ons geloof sal ons deurdra. Ons mis Dewald. Hy was ’n steunpilaar vir die familie. Ons is dankbaar vir die polisie en die gemeenskap se hulp en ondersteuning in die swaar tye.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’