GEORGE NUUS - Met haar eerste gala sedert grendeltyd het die 16-jarige swemsensasie, Minke Janse van Rensburg, so wraggies haar eie junior downsindroom wêreldrekord in die 100 m-vryslag met vier sekondes verbeter (1:24.00) en twee Afrika-rekords ingepalm.
Dié gala is aangebied deur Western Cape Aquatics en het verlede naweek in Langebaan, aan die Weskus, plaasgevind. Swemmers neem op uitnodiging hieraan deel.
Minke is 'n lid van die plaaslike swemklub, Fish Eagle Aquatics, en word afgerig deur Sybeth Hughes.
In die 50 m-vlinderslag het Minke die 10 jaar staande Afrika-rekord van Mariza Holdt verbeter, wat Holdt tydens 'n internasionale byeenkoms in Taipei opgestel het. Die nuwe rekord tyd is 47.03 sekondes.
Volgens Minke se pa, Hennie Janse van Rensburg, is dit 'n verbetering van 0.28 sekondes op haar vorige beste tyd, wat genoeg was om die Afrika-rekord agter haar naam te hê.
In die 200 m-vryslag breek Minke haar eie junior downsindroom Afrika-rekord - ook met vier sekondes. Haar nuwe rekord tyd is 3:20.03.
Glimlag van 'n wenner!
In die 50 m-vryslag het Minke so byna daarin geslaag om die ope wêreldrekord van die Spanjaard Camino Martinez, wat gedurende 2017 in Bobigny, Frankryk, opgestel is, te klop.
Minke het egter haar junior wêreldrekord verbeter met 0.3 sekondes en is nou 0.42 sekondes kort van die ope wêreldrekord.
Hennie het sy dogter se vreugde gedeel: "Om te swem maak Minke so gelukkig. Dit is wonderlik as sy presteer, maar vir ons is dit die heel belangrikste dat sy dit geniet."
Minke vat in blaaskans aan die Weskus.
Minke en Francois Vorster, 'n afrigter van haar swemklub, Fish Eagle Aquatics, wat die klub tydens die gala verteenwoordig het.
Minke wat die klub tydens die gala verteenwoordig het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'