EIENDOMSNUUS - Karin Krohn verduidelik hoe om te werk te gaan indien 'n eienaar sy stoep of patio wil toebou.
Die eerste stap is om na die deelplanne en die reëls van die skema te kyk en vas te stel of die vloeroppervlak van die stoep of patio deel van die eenheid vorm, of is dit dalk gemeenskaplike eiendom en moontlik geregistreer as uitsluitlike gebruiksgebied?
Indien die balkon deel van die eenheid vorm beteken dit dat die vloeroppervlakte reeds deur die landmeter ingereken is by die totale vloeroppervlakte van die woonstel en indien die balkon toegebou word sal dit nie as 'n uitbreiding geag word nie aangesien die vloeroppervlak grootte dieselfde bly en nie die deelnemingskwota beïnvloed nie.
Sien onderstaande uittreksel uit die deelplanne van 'n skema.
As die balkon deel vorm van die gemeenskaplike eiendom en moontlik as uitsluitlike gebruiksgebied geregistreer is, word sodanige toebouing as 'n uitbreiding van die deel geag en dan moet die stappe soos bespreek in my vorige artikel, gevolg word.
Indien u die eerste eienaar is wat die toebou van 'n balkon oorweeg raai ek aan dat u 'n ontwerp en planne aan die trustees voorlê. Alhoewel hierdie 'n trustees besluit verg, sou ek aanraai dat die trustees 'n spesiale vergadering belê of tydens die algemene jaarvergadering die aangeleentheid bespreek met die eienaars. Faktore wat in ag geneem moet word is hoe die toegeboude balkon of stoep die estetiese voorkoms van die skema kan beïnvloed en wie verantwoordelik gehou gaan word vir die onderhoud van die struktuur.
'n Vraag wat ons ook baie kry is wie verantwoordelik gaan wees indien die onderste eienaar skade ervaar as gevolg van waterlekke deur swak vakmanskap?
In praktyk het ook al ervaar dat regspersoon 'n klousule in hulle gedragsreëls inbring om die prosedure wat gevolg moet word, noukeurig te beskryf. Dit sluit in die beskrywing van 'n spesifieke ontwerp, die verkose kontrakteurs wie die toebouings kan doen en wie verantwoordelik is vir enige toekomstige onderhoud en herstelwerk. Sommige regspersone vereis ook 'n boudeposito van u as eienaar, wat terugbetaalbaar is sodra die toegeboude area inspekteer is en goedgekeur is deur 'n professionele persoon.
Onthou dat hierdie planne eers aan die trustees voorgelê moet word vir goedkeuring. Nadat die trustees die planne onderteken het (gewoonlik word daar ook 'n goedkeuringsbrief vereis van die trustees) kan u die planne (met die brief) aan die plaaslike munisipaliteit voorlê.
Indien daar reeds eienaars is wat hulle balkonne toegebou het, behoort bogenoemde proses reeds in plek te wees en benodig u net die goedkeuring van die trustees. Die trustees moet nog steeds die planne teken om hulle goedkeuring aan te dui en 'n brief van goedkeuring aan die eienaar gee, met of sonder enige voorwaardes.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het – insluitende deeltitels, huiseienaarsvereniging of aftreeoorde.