GEORGE NUUS - "Ek het geslaap, maar het iets gehoor wat soos donderweer geklink het. My man het nét van buite af ingekom nadat hy op die stoep gaan rook het. Twee minute daarna het ons die slag gehoor. Toe ons die deur oopmaak, kom ons op dit af."
Só beskryf Aretha Pieterse die oomblik nadat 'n enkelkajuit Toyota-bakkie vroeg Sondagoggend, 26 Julie, deur hul buurman se tuinmuur gebars en bo-op haar en haar man, Renaldo, se motors beland het.
Albei hul voertuie was in die erf in Missionstraat, Pacaltsdorp, geparkeer toe die bakkie bo-op die Pieterses se VW Polo en Toyota Yaris te lande gekom het. Albei voertuie het groot skade opgedoen.
Die egpaar het nie versekering vir hul voertuie nie, iets wat volgens Aretha weens die huidige ekonomiese omstandighede nie vir hulle bekostigbaar is nie.
"Almal gaan nou vra: 'Hoe kan jy twee voertuie hê en geen versekering nie?' Maar die ekonomie laat ons ongelukkig nie toe om in al ons behoeftes en begeertes te voorsien nie," sê sy.
Die Pieterses is na dié voorval steeds getraumatiseer. Gelukkig het al drie hul kinders geslaap toe dit gebeur het.
"Albei ons voertuie is omtrent wrakke gelaat, maar die ondersteuning van die gemeenskap was ongelooflik en niemand van ons het seergekry nie. Almal het gehelp om die polisie en ambulans in die hande te probeer kry. Die Yaris is my erfporsie van my ma, so dit het vir my baie sentimentele waarde," vertel Aretha.
Die bestuurder van die bakkie, 'n 30-jarige man, het ligte beserings opgedoen en is kort ná die voorval in hegtenis geneem op aanklagte van dronkbestuur en roekelose en/of nalatige bestuur.
Hy is vroeër die week op waarskuwing vrygelaat en sal na verwagting op Woensdag 11 November in die George-landdroshof verskyn.
Volgens Aretha is dit nie die eerste keer dat so iets in hul straat plaasvind nie en het hul bure al verskeie kere deur soortgelyke voorvalle deurgeloop. "Ons bure het dit al sewe keer moes deurmaak."
In 2025 is een van die Pieterses se bure se dogters, die 21-jarige Lauri-Kay Michaels, ook in Missionstraat doodgery terwyl sy die pad oorgesteek het.
Die beskuldigde in die saak, Cheslynn Hendricks, staan tereg op aanklagte van dronkbestuur, roekelose en/of nalatige bestuur asook die versuim om ná die ongeluk by die toneel te stop. Die saak dien steeds voor die hof en Hendricks maak sy volgende verskyning môre, Vrydag 31 Julie, in die George-streekhof.
Die bakkie het bo-op die Pieterses se voertuie geland.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’