GEORGE NUUS - Alleen op ’n sypaadjie met wat soos ’n vuurwapen gelyk het in sy hand. Só het die polisie vanoggend, 3 Augustus, ’n 40-jarige man aangetref voordat hy in hegtenis geneem is op ’n aanklag van brandstigting.
Die man het op die hoek van Palgrave- en Meadestraat gesit terwyl die huurhuis wat hy na bewering saam met ’n vrou bewoon het, aan die brand was.
Nadat die brandweer die vlamme geblus het, is ’n verbrande liggaam op ’n bed tussen die puin ontdek.
Onderhandelaars van die polisie is omstreeks 05:30 na die toneel ontbied nadat die man met die voorwerp in sy hand opgemerk is. Hy het alleen op die sypaadjie ’n ent van die huis af gesit.
Die situasie is egter gou ontlont en die polisie kon die voorwerp afneem. Daar is toe vasgestel dat dit ’n nagemaakte vuurwapen was.
Buurman: “They kept to themselves”
Anathi Sijila, ’n buurman, sê hy is vroegoggend wakker gemaak deur ’n harde geraas.
“Ek het deur die venster gekyk en gesien die huis brand. Toe ek buitentoe hardloop, het ek die man op die straathoek sien sit. Die polisie en brandweer was reeds daar en die brandweer was besig om die vlamme te blus.
“Ek kon sien die polisie het versigtig om hom beweeg. Hulle het ons gevra om op ’n afstand te bly omdat die man glo gewapen was en nie met hulle wou praat nie.”
Volgens Sijila het die man nie sigbaar beseer gelyk nie. Hy het ’n T-hemp en langbroek aangehad en die voorwerp die hele tyd in sy hand vasgehou.
By die toneel Maandagoggend, 3 Augustus. Foto: Marguerite van Ginkel
Sijila vertel die man en ’n ouer vrou het sowat ’n jaar gelede in die huis in getrek. “Ek het hulle in al dié tyd miskien net twee keer gesien. Die afgelope paar maande het ek ook nie meer sy voertuig daar opgemerk nie, en die ligte was saans nooit aan nie. Ek het gedink die huis staan leeg. Daarom was dit vir my ’n skok om te hoor daar het nog mense gewoon.”
Geen skote afgevuur nie
Hoewel die inwoners vertel het hulle het iets gehoor wat soos skote geklink het, sê die polisie geen skote is afgevuur nie. Die vermoede is dat iets binne die brandende huis harde klapgeluide veroorsaak het wat inwoners vir skote aangehoor het.
’n Nadoodse ondersoek sal bepaal wat die geslag van die oorledene is, asook wat die oorsaak van dood was.
Die 40-jarige verdagte sal na verwagting later vandeesweek op ’n aanklag van brandstigting in die hof verskyn. Die polisie het intussen ook ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die liggaam ontdek is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’