GEORGE NUUS - Die liefde blom soms op plekke waar 'n mens dit die minste verwag. Soos die gesegde lui: "Die mooiste blomme groei dikwels tussen die rotse."
Só was dit ook vir die bekende George-mondskilder, Patrick Botto, en sy nuwe bruid, Jodene, wat vroeër vandeesmaand in die huwelik getree het ná 'n liefdesverhaal wat oor meer as 'n dekade gestrek het.
Patrick, 'n boorling van Grabouw, se lewe het op 12 November 1993 onherroeplik verander toe hy, destyds 'n vingerafdrukdeskundige by die Suid-Afrikaanse Polisie, in 'n motorongeluk in Pretoria beseer is. Hy het sy vierde en vyfde nekwerwels beskadig en is as kwadrupleeg gelaat.
Patrick was na sy ongeluk vir sowat agt maande in die hospitaal, en vier jaar later het hy begin skilder en ontdek dat kuns vir hom 'n nuwe doel in die lewe gee. Vandag is hy 'n bekende mondskilder en trotse lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders (MVSV).
"Toe ek in die polisie was, het ek nooit kon dink dat ek eendag met my mond sou skilder nie," vertel hy.
Sy grootste meesterstuk, sê hy, is egter die lewe wat hy saam met Jodene opgebou het.
Die twee het mekaar sowat 11 jaar gelede by die Andries Olivier-kwadrupleegsentrum in Durbanville ontmoet. Jodene, oorspronk-lik van Barrydale, het na Kaapstad verhuis voordat sy 'n pos as versorger by die sentrum aanvaar het. Patrick was destyds een van die inwoners én bestuurders van die sentrum.
"Daar was 12 van ons in die eenheid, maar sy het my gekies," vertel Patrick met 'n glimlag. "Ons eerste date was by die Spur."
Die jawoord is tydens 'n familiebraai in Kaapstad gevra, maar nie sonder Rayden se betrokkenheid nie. Dit was immers hy wat op sy knie gegaan het, terwyl Patrick vanuit sy rolstoel vir Jodene gevra het om met hom te trou. "Die ring was al aan voor sy my nog geantwoord het," lag Patrick.
Die gelukkige paartjie op hul troudag.
Patrick skryf hul verhouding en die liefde wat hulle deel aan God toe.
"Hy is die fondament waarop ons lewe gebou is. Ek is elke dag dankbaar dat Jodene my pad gekruis het en dat ek vandag kan doen wat ek doen."
Die egpaar het sowat sewe jaar gelede na George verhuis en woon deesdae in Bos en Dal saam met hul negejarige seun, Rayden.
"Ek maak 'n bestaan uit my kuns en Jodene is die ystervrou wat die huishouding aan die gang hou en seker maak Rayden kom elke dag betyds by die skool en by sy skopbokslesse uit," lag Patrick.
Hy beskryf sy vrou as sy grootste ondersteuner.
"Jodene maak my lewe voller. Ek weet dit is die beste keuse wat ek ooit gemaak het en ek glo vas ons sal saam tot die einde staande bly."
Benewens sy kuns lewer Patrick ook gratis motiveringspraatjies en demonstrasies by skole, sentrums en ander organisasies om mense met sy lewensverhaal te inspireer. Hy kan gekontak word by 083 258 2497.
Hy en sy kunswerke kan ook soms gesien word by die Garden Route Mall en kunsmarkte in die omgewing.
Jodene en Patrick Botto het pragtig gelyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’