GEORGE NUUS - ‘n Ongeluk vanoggend 2 Augustus omstreeks 06:00 op die hoek van Mark- en Merrimanstraat het radiojoernalis Christo Gawie genoop om sy oggendprogram op Heartbeat FM vir ‘n paar minute te verlaat om ondersoek in te stel.
Met Gawie se aankoms op die toneel was ‘n privaat ambulansdiens reeds besig om die bestuurder van ‘n afleweringsvoertuig te behandel. ‘n Botsing het by die verkeersligte tussen dié voertuig en ‘n kombitaxi plaasgevind.
“’n Reddingspan van die George-brandweer was ook daar om te help om die bestuurder van die taxi te bevry. Dit was ‘n redelike uitdaging,” het Gawie gesê.
Volgens die inligting tot sy beskikking is niemand oorlede nie.
Op ‘n vraag oor hoe hy van die ongeluk gehoor het, het Gawie gesê ‘n luisteraar het hom verwittig.
“Ek los nie gewoonlik my program nie, maar ek moes gaan ondersoek instel,” het Gawie gesê. “Ek wou graag hieroor rapporteer, maar moes eers seker maak van die feite.”
Terugvoer van die polisie
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder adjudant-offisier Christopher Spies is 'n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen ná 'n botsing tussen twee voertuie op die hoek van Merriman- en Markstraat in George vanoggend, Sondag 2 Augustus.
Volgens voorlopige inligting het lede van die George-polisie omstreeks 06:30 op die toneel opgedaag, waar hulle 'n Kia-afleweringsvoertuig en 'n Toyota Quantum-minibustaxi aangetref het wat gebots het.
Een van die bestuurders het beserings opgedoen en is medies behandel.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.
Radiojoernalis, Christo Gawie. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’