Gallery Update
GEORGE NUUS - Werkers, hoofsaaklik GO GEORGE-busbestuurders en werkers van Working on Fire (WoF), het Woensdag 25 April, as deel van die landwye staking van die vakbondfederasie, South African Federation of Trade Unions (Saftu), in George byeengekom.
Dié optog spruit uit die landswye staking waarin busbestuurders reeds vir drie weke staak.
Lede van die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het ook by die groep aangesluit.
Die federasie het ten doel om nié die voorgestelde R20 per uur nasionale minimumloon te aanvaar nie. Dié bedrag is volgens hulle te min.
Hulle het ook kapsie gemaak teen ander wysigings aan die arbeidswette, asook ekonomiese uitdagings wat werkers en armes in die gesig staar.
Saftu vra die regering om 'n minimum loon van R12 500 te aanvaar.
Cosatu het homself vroeër van die staking gedistansieer en die minimumloon-voorstel ondersteun.
Stakers het vreedsaam in Yorkstraat op beweeg waar die eerste memorandum, met 'n lang lys griewe, aan die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendriks, oorhandig is.
Busse wat se lugverkoelingstelsels foutief is, kameras op die busse wat klaarblyklik slegs dien om busbestuurders dop te hou en nie as veiligheidstoestelle nie, badkamergeriewe vir veral aandiens vrouebusbestuurders en die behoefte aan behuisingsubsidies is onder die lys van griewe.
"Ons verdien te veel om aansoek te doen vir Hop-huise, maar té min om aansoek te doen vir 'n huisverband. Ons wil hê die munisipaliteit moet hul beleid verander om ons te akkommodeer," het Ralph Stoffels, 'n vakbondverteenwoordiger, tydens die oorhandiging van die griefskrif gesê.
George-munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het verlede Donderdag aan die George Herald te kenne gegee dat hulle binne sewe dae op die griefskrif sal reageer.
Tsase Ramphisa het die groep by die siviele ingenieursgebou in Yorkstraat toegespreek.
Daarna is die groep na die departement van arbeid in Nelson Mandela-boulevard waar nog 'n memorandum aan Timoti Nyakaza, adjunk-direkteur van arbeidsentrum-bedrywighede, oorhandig is.
*A large group of workers, mainly GO GEORGE bus drivers and Working on Fire employees, took part in the minimum wage national strike on Wednesday 25 April.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'