Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Nog stadsraadslede gaan die DA verlaat en dit gaan uiteindelik genoeg wees om die magsbalans in die raad te swaai. Dit was Dinsdag die boodskap tydens 'n nuuskonferensie waar die Good-party aangekondig het dat Mercia Draghoender by die party aansluit.
Draghoender was tot Dinsdag 'n DA-lid en die wyksraadslid vir wyk 20. Draghoender se bedanking beteken dat 'n munisipale tussenverkiesing gehou moet word. Dit sal eers na die verkiesing op 8 Mei plaasvind.
Draghoender het benadruk dat sy geen posisie in Good aangebied is nie. Sy is wel beskikbaar om die party se vaandel in 'n tussenverkiesing te dra.
Draghoender is tydens die nuuskonferensie bygestaan deur Shaun August, Good se nasionale koördineerder en Basil Petrus, SAC-stadsraadslid en ook Good-lid.
Draghoender het gesê dit was nie 'n maklike besluit nie. Dit was nie altyd aangenaam in die DA gewees nie. Baie dinge in die DA is gedraai om sekere mense te pas. As jy lawaai maak in 'n koukus sal jy 'n brief kry. Sy is moeg baklei en wil nie meer haar "wickets" beskerm nie.
Toe die OD destyds deel van die DA geword het, het sy dit nie vrywilliglik gedoen nie. Sy het aangevoer dat van die DA-lede nie altyd van die OD-lede gehou het nie.
Kyk 'n video hieronder:
Draghoender het gesê nog DA-lede gaan bedank. Dit is 'n feit. Sy wou nie name noem nie. Sy is nie arrogant nie, maar haar gelyke is nog nie in die DA gevind nie.
Volgens Draghoender is daar ook goeie mense in die DA. Sy het nie 'n probleem met die burgemeester, Melvin Naik nie.
Sy het vraagtekens oor die groot invloed en mag van Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek.
Petrus het gesê hy is ook bewus van DA-lede wat gaan bedank en dit gaan die magsbalans swaai. Die omvang van die probleme in die DA is groter as wat mense besef. Londt het by navraag gesê Draghoender se bedanking is nie onverwags nie. Dit sal geen impak hê op die DA se verkiesingsveldtog nie.
Die DA sal beslis 'n kandidaat in wyk 20 stel. Meer besonderhede sal na die verkiesing op 8 Mei bekend gemaak word.
More councillors will leave the DA and it will eventually be enough to change the balance of power in Council. This was the message at a news conference on Tuesday where the Good party announced that Mercia Draghoender has joined the party.
Read a previous article: Mercia Draghoender sluit by Good aan
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'