Update
GEORGE NUUS - 'n Ma en ouma van Touwsranten, Albertina Solomons (61), het verlede Woensdag,10 Januarie, tydens 'n motorongeluk by die ingang na Wilderness gesterf.
Solomons het 'n Ford Bantam-bakkie ten tyde van die ongeluk bestuur en was die enigste insittende van die voertuig.
Solomons se dogter, Sharon Fisher-Buys, beskryf haar as 'n lewenslustige mens wat baie lief was vir seevisvang. Sy het graag haar kleinkinders see toe geneem wanneer sy tyd daar spandeer.
Volgens Fisher-Buys was haar ma verlede Woensdag op pad na Groot-Brakrivier om haar broer te gaan haal. Solomons het bedags huiswerk by 'n woonhuis in Wilderness gedoen.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het bevestig dat drie voertuie in die botsing betrokke was - 'n Mitsubishi-vragmotor, Ford Bantam-bakkie en Volkswagen Amarok. Die ongeluk het omstreeks 14:30 oorkant die Caltex-afdraai op die N2 plaasgevind. Solomons het ernstige beserings opgedoen. Sy is later deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.
Die George-polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag. Die oorsaak van die ongeluk moet nog vasgestel word.
Solomons se verassingsdiens vind eerskomende Saterdag by Touwsranten plaas. Sy word oorleef deur haar man, Jacobus Solomons, haar twee broers en twee susters, haar dogter, twee seuns en kleinkinders.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'