Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sy het haar pa, dogter en man binne 'n ommesientjie verloor - nou is heroïen haar baas. Tania Kelly (45) is een van vele mense wat snags skuiling soek in George se strate en stegies.
Sy gebruik al jare lank dwelms, maar nadat Tania haar gesin en haar pa binne twee jaar verloor het, het dinge ernstig begin skeefloop vir hierdie vrou.
Die dood van haar dogter het haar die hardste geslaan. Daarna het die gebruik toegeneem, en nou is dit die enigste hoogtepunt in haar lewe.
Tania kom van Port Elizabeth, maar sy woon die laaste 10 maande in George se strate. Na 'n lang verblyf by 'n rehabilitasiesentrum in Karatara het sy na George gereis. "Ek was net een dag hier, toe is ek weer terug waar ek was," het sy gesê.
Volgens Tania het sy die huis waarin sy gewoon het verloor en het nêrens anders om te bly nie. Sy het geen inkomste nie. 'n Probleem met haar Sassa-toelaag los haar tans pennieloos.
Tania het haar pa tydens 'n lang siekbed versorg en in die proses Hepatitis C opgedoen. Die sere in haar gesig getuig daarvan. "Ek weet ek gaan dood gaan," het sy gesê. "Hepatitis tas jou lewer ook aan."
Soos meeste haweloses wil Tania nie graag uitbrei oor haar slaapplekke nie, want hulle is weerloos. Tania is 'n tipiese alleenloper. Sy slaap alleen, loop alleen en bedel alleen. Sy het ook nie 'n spesiale vriend nie, want haar man se dood 'n jaar gelede is nog seer in haar hart.
Kyk 'n video hieronder:
Die daaglikse sop en brood van Cremhog (Christian Ministries to the Homeless of George) by St Mark's plein (agter Absa-bank) is 'n welkome lafenis na 'n lang koue aand.
Ek het haar gevra om te glimlag vir 'n foto, maar sy wil nie. "Ek smile nie meer nie," het Tania gesê.
n Lees volgende week in die George Herald van 'n vrou wat sedert 13-jarige ouderdom weens misdaad in jeugsentrums en gevangenis beland het. Lollie is nog een van George se verlore siele.
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'