GEORGE NUUS - Die nood van die haweloses is aan die toeneem. George-nagskuiling het die getalle om dit te bewys.
Só het Rina Smith, bestuurder van die plaaslike nagskuiling, by navraag oor die situasie in George gesê.
Smith lys werkloosheid, verslawing en sielkundige kwessies as hoofredes vir die probleem.
Besighede en inwoners word direk of indirek deur die lot van haweloses geraak. In die middedorp slaap haweloses oral in die sentrale sakekern, maar ook in areas waar daar beskutting is soos agter klein kragstasies, kantooringange, straatinhamme en selfs op die gras langs 'n skool of kantoor-kompleks.
Mense slaap ook in bosse op verskillende plekke soos George-hospitaal, Rooirivier, die berghange en bosse in Blanco.
Dié mense het geen wasplek nie. Van hulle was by publieke badkamers of iewers in 'n beskutte hoek of in die rivier.
Die enkele publieke toilette in die middedorp word dikwels gevandaliseer. Haweloses ontlas dikwels daar waar hulle slaap.
Dit is veral vir gebou-eienaars 'n irritasie as hulle soggens voor stegies of hul besighede moet skoonmaak nadat iemand die vorige nag daar "oornag" het.
'n Munisipale maatskaplike beampte het vasgestel dat 'n groep persone wat gereeld op die hoek van York- en Palgravestraat byeengekom het, nie haweloos is nie, maar inderdaad in Borcherds en Syferfontein woon. Die mense beweer dat hulle bedags dorp toe kom om werksgeleenthede te soek.
Oorlas
Oor die jare het soveel besighede en inwoners hul tot die George Herald gewend met foto's van haweloses wat nesskop op of langs hul perseel of huis. Die situasie het nog nie verander nie.
Net verlede week het 'n inwoner laat weet dat sy 'n paartjie op 'n matras in die Van Riebeecktuine gewaar het.
"Ek ry baie daar verby. Hulle woon daar," het die inwoner gesê.
Volgens die munisipale bywet mag niemand in die park oornag nie, maar niemand mag verhinder word om die park bedags te gebruik nie, tensy hulle 'n bywet oortree. Chantel Edwards-Klose, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die areas word gereeld gepatrolleer.
Munisipale wetstoepassers kan help in sommige gevalle waar haweloses probleme veroorsaak, maar sodra dinge hand uit ruk moet die polisie intree. Wetstoepassing kan optree indien persone die munisipale verordeninge oortree, soos urineer en drink in die publiek.
"Bakleiery in die publiek, oproerigheid en intimidasie is 'n situasie wat deur die polisie moet hanteer. Die persoon wat die probleem ondervind, moet ook bereid wees om 'n beëdigde verklaring, indien benodig, te gee," het Edwards-Klose gesê.
"Persone kan ook nie gedwing word om by plekke soos die George-nagskuiling te gaan bly nie."
Munisipale wetstoepassers kan help in sommige gevalle waar haweloses probleme veroorsaak, maar sodra dinge hand uit ruk moet die polisie intree.
Skuiling
Tans is George-nagskuiling die enigste plek waar haweloses kan oornag teen R25 per persoon, maar dan moet hulle sober wees. Vir hierdie fooi kry 'n persoon aandete, 'n stort en ontbyt.
Persone jonger as 56-jaar kan nie bedags in die skuiling bly nie, tensy hulle siek is of daar 'n spesifieke rede is.
Volgens Smith word hulle aangemoedig om werk te soek. Sy het gesê dit is belangrik vir hul selfbeeld.
"Dit is baie selde dat ons persone weg wys. Dit gebeur soms dat ons persone wat nie hulself kan versorg nie, nie kan inneem nie. Ongeag al die stories wys ons nie sommer 'n persoon weg nie. Ons probeer regtig 'n pad stap," het Smith gesê. "Ongelukkig kan ons nie 'n persoon huisves wat 'n moontlike gevaar vir ons mede-inwoners is nie."
Die nagskuiling het 'n maatskaplike werker wat persone verwys na instansies waar nodig. Hulle word gehelp met aansoeke vir ouetehuise, identiteitsdokumente, berading en psigiatriese afsprake. Die skuiling bied ook vervoer na en van hospitale en klinieke.
'n AA-groepie vergader elke Dinsdagaand by die perseel.
Oorlewing
Cremhog (Christian Rehabilitation Ministries to the Homeless of George) bied daagliks maaltye vir haweloses by hul bedieningspunt. Volgens André Olivier van Cremhog is dit dikwels die enigste maaltyd wat sommige geniet.
Vir 'n los geldjie werk party haweloses as karwagte, of stoot trollies by winkelsentrums en probeer so 'n paar rand maak. Ander beman groentestalletjies. Haweloses kom van oral, maar volgens inligting blyk dit dat heelwat vanuit die nabye omgewing (Karoo, Oudtshoorn) en Oos-Kaap hier opeindig. Gevangenes wat in George hul straf uitdien word glo ook dikwels hier vrygelaat, al is hulle nie oorspronklik van George nie.
Weens geen familie ondersteuning hier nie beland sommige op straat.
Cremhog het hul die afgelope paar jaar beywer vir die daar stel van 'n fasiliteit waar haweloses, wat nie in die nagskuiling kan oornag nie, gehuisves kan word.
Die projek se toekoms is tans in die hande van die George-munisipaliteit. Cremhog wag op 'n kontrak vir die huur van 'n stuk grond waar die skuiling gebou kan word.
- Maatskaplike ontwikkelingsafdeling: 044 802 2000
- Munisipale wetstoepassing: 044 802 6350
Besighede en inwoners word direk of indirek deur die lot van haweloses geraak. In die middedorp slaap haweloses oral in die sentrale sakekern, soos hier op 'n sypaadjie voor die Garden Route-distriksmunisipaliteit in Yorkstraat. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'