Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die lewe is hard, maar die lewe op straat is nat, hard en koud. 'n Groeiende bewussyn oor haweloses sorg vir gesprekke in die verband tussen die plaaslike owerheid, organisasies soos Cremhog (Christian Ministries to the Homeless of George), besighede en inwoners wat om verskeie redes kopkrap oor die dilemma.
Die George Herald het St Mark's plein (agter Absa-bank) in die middedorp besoek om met van die haweloses oor hul stories te gesels. Soos André Olivier van Cremhog tereg opmerk: "Mense praat graag oor haweloses, maar selde met haweloses."
Marius se storie
Hy mis sy mense wat in Worcester bly. Marius Godfrey (42) is een van menigte haweloses wat tussen die krake van die samelewing veg om oorlewing.
Twee jaar gelede het Marius na George gereis met die hoop om as groentesmous meer te verdien as 'n besproeier op wingerdplase in die Heksriviervallei. Dinge het nie uitgewerk soos hy gehoop het nie, en nou is hy boonop met TB en asma gediagnoseer.
Die George Herald het Marius verlede Donderdag by 'n plein in die middedorp agter Ackermans ontmoet. Hy het vir die eerste keer aangemeld vir die voedingskema wat deur Cremhog (Cristian Ministries to the Homeless of George) bedryf word.
Dit is 'n plek wat hy nou elke oggend gaan besoek.
Marius beskryf sy ergste nag op die dorp as die een waar hy in die bos agter die George-hospitaal deurgebring het.
"Sonder 'n kombers, sonder kos. Ek weet dit is gevaarlik, maar ek het nie 'n ander keuse gehad nie," het hy gesê.
Meesal slaap Marius in voertuie van diegene wat hy bevriend, of vir wie hy van tyd tot tyd werkies doen. Die nat en koue is sleg vir sy gesondheid.
Kyk 'n video hieronder:
Marius se vrou, van wie hy vervreem is, sowel as sy twee volwasse kinders, woon in Worcester. Hy wil graag teruggaan, maar hy het nie geld nie.
Al is hulle uitmekaar, weet Marius sy vrou sal na hom kyk, "want sy het so gesê". Hulle het nie meer kontak nie, maar hy ken die adres uit sy kop.
Marius se trots is gekrenk. Hy wou nie só teruggaan nie. Dit was nie sy plan nie. "Soms vra ek die Vader: 'Wil U nie maar reg en geregtigheid laat geskied en my kom haal nie? Maar dan sê ek vir myself God weet die beste."
Lees volgende week in die George Herald oor Tania, 'n heroïenverslaafde, wat haar gesin binne 'n kort tydperk aan die dood afgestaan het.
Die lewe is hard, maar die lewe op straat is nat, hard en koud.
Lees 'n verwante artikel: Strate vol'verlore siele'
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'