Update
GEORGE NUUS - Bouwerk aan die oorloop van die Tuinroetedam se damwal sal waarskynlik in Maart begin. Dit is deur Trevor Botha, George se munisipale bestuurder, bevestig. Die munisipaliteit het vroeër in 'n verklaring gesê dat indien geen onvoorsiene struikelblokke opduik nie, bouwerk in Maart kan begin.
Probleme het verlede jaar ontstaan nadat die maatskappy, wat suksesvol getender het, bankrot gespeel het. 'n Nuwe tenderproses moes begin.
Botha het aan George Herald gesê alles is op koers. "Die plan is dat bouwerk in Maart begin. Die nuwe kontrakteur is nog nie aangestel nie, maar die proses is ver gevorder."
Luidens die munisipaliteit se vroeëre verklaring was daar in die verlede gebeure buite die beheer van die instansie.
Die geraamde koste van die projek beloop R25 miljoen waarvan R13,5 miljoen deur die nasionale departement van water en sanitasie voorsien sal word. As die normale weersomstandighede, vakansiedae en -tydperke in aanmerking geneem word en geen ander onvoorsiene omstandighede opduik nie, sal konstruksie sowat 50 weke tot 'n jaar duur.
Luidens verdere inligting wat deur die munisipaliteit beskikbaar gestel is, sal die verhoging van die oorloop die kapasiteit met sowat 25% verhoog tot 12,5 miljoen kubieke meter. Dit sal beteken dat George se rouwater kapasiteit met byna 11% verhoog.
Ken Gie, 'n omgewingsaktivis, het die jongste verwikkelinge verwelkom. Hy het bygevoeg: "Dit moes al lankal gebeur het. Die verhoogde kapasiteit sal waarskynlik nie genoeg wees nie. Ons moes al 20 jaar gelede nog 'n dam gebou het. Die bevolking groei en hier kom meer mense na George. Dit vind teen 'n skrikwekkende spoed plaas."
Deon McAdam, eienaar van Garden Route Water Consultants, het gesê in die algemeen verwelkom hy dit. Hy glo ook dit moes al lankal plaasgevind het.
"Hoe meer water gestoor kan word, hoe veiliger is dit vir 'n dorp en 'n stad." Meer en meer mense kom van ander dele van die land en dit plaas druk op die bestaande infrastruktuur. Dit is van kritiese belang dat dit uitgebrei word. Mense moet self ook verantwoordelikheid neem en byvoorbeeld tenks vir reënwater by hul woonplekke aanbring. "Hoe meer water opgegaar word, hoe beter."
Read previous articles:
- Projected start of dam wall project: March 2019
- Raising of spillway could be 'months' away
- High hopes for new tender specs
- Garden Route Dam contractor withdraws tender
- Dam overflows, 'but please keep saving'
- Garden Route dam overflows
- Spotlight on Eden water challenges
- Raising of dam wall and spillway update
- Raising of Garden Route Dam spillway
- Update on Garden Route Dam capacity increase
- Have your say: Dam's spillway amendment
- Garden Route Dam spillway to be raised
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'