Update
GEORGE NUUS - Boeta se moordsaak duur voort - Die man wat van die moord op die 51-jarige Theodore Roman (Boeta) beskuldig word, verskyn weer op 21 Junie in George-streekhof.
Die verdagte, Luvuyuo Dodashe (45) van die Oos-Kaap, het te voet gevlug met 'n boksie glase en is kort na die voorval in hegtenis geneem. Hy was op parool tot hy na bewering vir Roman, die eienaar van Boeta's Tavern in Nelson Mandela-boulevard, op 22 Januarie 2018 doodgeskiet het.
Hy is in 2005 in Dispatch skuldig bevind en gevonnis op aanklag van gewapende roof.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het destyds gesê Roman en sy winkelassistent was na bewering op pad om geld te gaan bank, toe die verdagte die gebou binnekom en aandring op die geld. Roman het hom teëgesit waarna die verdagte op hulle losgebrand het. Hy is drie keer in die bors getref en het op die toneel gesterf.
Kêrel se verhoor begin in Oktober
Die man wat verdink word van die moord op Rencia Jafta (37) van Parkdene, Grant Robertson (34), verskyn weer op 18 Oktober in die rondgaande hooggeregshof in George wanneer sy verhoor geskeduleer is om te begin.
Robertson, Jafta se kêrel, is op 14 Julie 2019 in hegtenis geneem ná haar liggaam onder 'n bed in haar opslaanhuis in Bisonsingel gevind is. Sy het 'n kopwond gehad en die vermoede bestaan dat sy met 'n stomp voorwerp aangerand is.
Haar liggaam was in komberse toegedraai. Sy is die vorige dag deur haar familie as vermis aangemeld. Hy bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'