Update
GEORGE NUUS - Nog 'n verdagte is in verband met die moord van die swanger ma, Leonie Williams (29) van Conville, in hegtenis geneem.
Dit volg nadat Williams op Vrydag 16 Oktober glo voor haar 6-jarige seun deur haar ekskêrel, Elton Veldman (46), doodgesteek is. Williams en haar seun, Veldman se kind, het vir die naweek by hom in Rosedale gekuier toe die voorval plaasgevind het.
In daardie stadium was hy die enigste verdagte, maar op Donderdag 21 Januarie, is daar nog 'n verdagte van Rosedale in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Volgens Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, sers. Chris Spies, het die 30-jarige Renaldo van Rooyen gister, Woensdag 3 Februarie, vir sy borgtogaansoek in die George-landdroshof verskyn. Teen druktyd was daar egter nog geen besonderhede rondom sy verskyning nie.
Albei verdagtes is in aanhouding sedert hulle afsonderlike arrestasies.
Die voorval
Destyds het die polisie gesê dat die voorval na bewering in die vroeë oggendure op Vrydag 16 Oktober in 'n woning in die Rosedale-plakkerskamp plaasgevind het.
Die beskuldigde en die oorledene het glo baklei terwyl hul 6-jarige seuntjie in die vertrek saam met hulle was.
Tydens die bakleiery het die oorledene na bewering die verdagte met 'n mes probeer steek waarna die verdagte die mes by haar gevat het en haar verskeie kere gesteek het.
Sy het aan veelvuldige beserings beswyk terwyl haar jong seun toegekyk het.
Veldman is kort daarna in hegtenis geneem met 'n Okapi-mes in sy besit.
Vorige artikels:
- Gedenkdiens vir Leonie in Rosedale gehou
- Jong ma voor kind vermoor
- Man accused of murdering pregnant ex-girlfriend
- Protest against bail of murder suspect
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'