GEORGE NUUS - "As hy uitkom gaan ons hom brand. Ons gaan hom kry. Dis beter dat hy binne bly."
Só het inwoners van Conville en Rosedale Maandagoggend, 19 Oktober, tydens 'n optog voor die George-landdroshof aan George Herald-joernaliste gesê.
Dié dreigemente volg ná 'n jong swanger ma van Conville, Leonie Williams (29), verlede Vrydagoggend voor haar 6-jarige seun doodgesteek is, vermoedelik deur haar ekskêrel, Elton Veldman (46). Williams en haar seun, Veldman se kind, het vir die naweek by hom in Rosedale gekuier toe die voorval plaasvind.
Gemeenskapslede, vriende en familie van die oorledene het Maandagoggend voor die George-hofgebou saamgedrom met plakkate om die moontlike borgtogvrylating van die beskuldigde teen te staan. Veldman het Maandagoggend vlugtig in die landdroshof verskyn waarna die saak tot 27 Oktober vir sy formele borgtogaansoek uitgestel is.
Die voorval
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die voorval in die vroeë oggendure op Vrydag 16 Oktober in 'n woning in die Rosedale-plakkerskamp plaasgevind.
"Die beskuldigde en die oorledene het na bewering baklei terwyl hul 6-jarige seuntjie in die vertrek saam met hulle was.
"Tydens die bakleiery het die oorledene na bewering die verdagte met 'n mes probeer steek waarna die verdagte die mes by haar gevat het en haar verskeie kere gesteek het. Sy het aan veelvuldige beserings beswyk terwyl haar jong seun toegekyk het," sê Pojie.
Veldman is kort daarna in hegtenis geneem met 'n Okapi-mes in sy besit.
Die polisie het gerugte dat Williams se maag oopgesny was ontken. "Gerugte wat die ronde doen dat die buik van die slagoffer oopgesny is om 'n fetus of baba te verwyder, is ongegrond, aangesien die voorlopige uitslag van die lykskouing aandui dat sy weens veelvuldige steekwonde dood is. Daar was geen snywonde nie," het Pojie gesê.
George Herald-joernalis, Salette Cloete, in gesprek met Leonie Williams se pa, Izak Pietese, Maandagoggend voor die George-hof. Foto's: Kristy Kolberg
Tydens 'n onderhoud met George Herald-joernalis, Salette Cloete, het Williams se pa, Izak Pieterse, gesê sy dogter was bekend as 'n pragtige, sagte persoon. "Sy is op 'n wrede wyse van ons, haar familie, weggeskeur. Ek voel ook sterk oor my vermoede dat Veld-man hulp gehad het om my kind dood te maak."
Volgens Pieterse is Veldman te siek en swak om Williams self stil te hou terwyl hy haar gesteek het.
"Hy is 'n argitek van moord en sal vrot in die selle waar hy nou is, nog voor sy laaste hofdatum." Williams se seuntjie is in die sorg van haar ouers.
Sy laat ook haar ouers, 'n suster en broer agter. Williams word Saterdag 24 Oktober om 10:00 uit haar ouerhuis in Mentzstraat 69, Conville begrawe.
Een van Williams se vriendinne, Caitlin Luiters, het deelgeneem aan die optog.
Vroue by die hof het gesê hulle is moeg vir geweldadige mans. Foto: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'