Update
GEORGE NUUS - Onwettige strukture neem daagliks in George se woonbuurte toe, met HOP-ontwikkelings wat al hoe meer onder druk kom.
Van agterplaashutte en huiswinkels tot spazawinkels wat sonder toestemming gebou word, sê gemeenskappe die situasie skep spanning, knaag aan veiligheid en plaas enorme druk op infrastruktuur.
Terwyl munisipaliteite landwyd sukkel om by te hou, vra inwoners nou: wie moet optree, en hoekom voel dit asof die reëls nie vir almal dieselfde geld nie?
Volgens gemeenskapsleiers van Pacaltsdorp, waar die relatief nuut ontwikkelde HOP-woonbuurt, Reigerpark, deur beweerde onwettige strukture vervuil word, veroorsaak dit ’n kriewelagtigheid binne die gemeenskap en werk dit teen die oorspronklike doel van die ontwikkeling. Inwoners sê hulle voel hul veiligheid is knaend in gedrang en is bekommerd oor die infrastruktuur en die waarde van hul huise.
Dié probleem vorm deel van ’n groeiende nasionale uitdaging. George-munisipaliteit sê egter hulle hanteer dit aktief, selfs al is die proses nie altyd so vinnig of sigbaar as wat inwoners sou hoop nie.
Inwoners wat nie onwettige strukture rapporteer nie, dra self ook by tot die uitdaging en enorme druk op munisipale hulpbronne.
Bouplanne word regdeur die stad vereis, en in baie gebiede gaan dit oor die oortreding van privaatheid en grense. Tog blyk dit nie oral dieselfde te wees nie, en sommige inwoners voel daar bestaan twee stelle reëls: een stel wat streng gehandhaaf word, en ’n ander wat slegs in werking tree wanneer oortredings gerapporteer word.
“Hoekom moet ek deur ’n klomp red tape gaan net om ’n Wendy-huis op te slaan. Dis bouplanne en what not. Maar die klomp bou net al aan sonder enige planne of toestemming,” het ’n ongelukkige inwoner van Pacaltsdorp gesê.
In baie gevalle word die HOP-huise aan inwoners oorhandig, waarna hulle dit dan uitverhuur teen tot R1 500 per persoon per maand.
Geen planne, geen gebou
George-munisipaliteit het bevestig dat strukture sonder goedgekeurde planne nie geduld sal word nie.
olgens Ntobeko Mangqwengqwe, senior kommunikasiebeampte van die munisipaliteit, vind inspeksies plaas op grond van klagtes en proaktiewe optrede.
Daarna kan oortreders kennisgewings, finale waarskuwings en selfs strafregtelike vervolging in die gesig staar.
Mangqwengqwe sê dit is ’n lang en komplekse proses, en weens sekere regsprosedures, kan struktuurverwydering nie sommer dadelik gedoen word nie.
“Sodra ’n oortreding bevestig word, volg ’n formele proses. Eienaars ontvang eers ’n kennisgewing van oortreding en kry 30 dae om die probleem reg te stel. Indien daar geen reaksie is nie, word ’n finale kennisgewing uitgereik wat waarsku teen moontlike strafregtelike vervolging.
“As eienaars steeds versuim om die onwettige aktiwiteit te staak of die vereiste aansoeke of bouplanne in te dien, word die saak na die Munisipale-hof verwys vir vervolging.”
Maar die mense is vuisvoos en huiwerig om die munisipaliteit se beloftes te glo tot hulle daadwerklike verandering sien.
“Die probleem met die mense wat die spazawinkels oprig, is dat hulle sonder planne bou. Hulle bou oor grense en doen net wat hulle wil. Dis gewoonlik die buitelanders en hulle byt ons mense se armoede uit deur ander te kry om huise te huur en huiswinkels te bedryf,” sê ’n inwoner van Conville.
“Ons kinders word soms by die winkeltjies blootgestel aan dwelms, seks en misdaad en die munisipaliteit skitter in hul afwesigheid.”
Tekort aan mannekrag
’n Bron met kennis van die situasie sê daar is eenvoudig nie genoeg mannekrag om die hele stad fisiek te monitor nie. As inwoners nie hul deel doen deur onwettige strukture te rapporteer nie, skep dit groot probleme vir die munisipaliteit.
“Hoe kan jy infrastruktuur en behuising beplan as jy nie weet hoeveel mense in agterplaas-strukture woon nie?”
Hy sê die feit bly staan dat baie inwoners nie hierdie strukture aanmeld nie en sodoende keur hulle dit eintlik goed.
“Dit veroorsaak groot probleme vir enige munisipaliteit, want hoe kan enige dienste beplan word sonder dat hierdie strukture op ’n plan aangebring is?
Nie nasionale welsyn nie
Die bron meen mense moet verstaan dat munisipaliteite nie ’n nasionale welsynstelsel is nie.
Hulle funksioneer op grond van belasting, tariewe en toelaes wat op die bevolking gebaseer word.
“Agterplaasbewoners wat nie aan die reëls voldoen nie, is eintlik ’n groot oorsaak van hulle eie probleme, want in ’n samelewing wat bekend is vir korrupsie, kan munisipaliteite nie net raai oor bevolkingsyfers nie. Dit plaas enorme druk op ons infrastruktuur.”
Die ander kant van die munt
Ali Husein, voorsitter van Southern Cape Foreign Concerns, sê dat spazawinkels vir baie buitelanders die enigste manier van bestaan is.
“Dit is belangrik dat ons saam met die plaaslike regering werk om klein winkels behoorlik te reguleer. Hierdie land het ’n Grondwet, en dié Grondwet geld vir almal en staan bo alles. Buitelanders wat wettiglik in die land is, het die reg om onder die wet te werk.
“Daar is egter ’n paar wat probeer om mense te mislei deur onrealistiese beloftes te maak. Die gemeenskappe is nie oningelig nie.
“Hulle verstaan die werklikheid en baie mense het glad nie ’n probleem met buitelanders se winkels nie. Hierdie winkels dra selfs ’n klein inkomste by tot die plaaslike gemeenskap, veral deur eiendomme uit te huur, mits dit volgens die wet gedoen word. Ek doen dus ’n beroep op almal om die wet te respekteer en te handhaaf.”
Onwettige strukture word soms tot teenaan die boulyn opgerig. Foto: Kristy Kolberg
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’