GEORGE NUUS - Meer as 800 jongmense het aansoek gedoen om deel te wees van Impact, ’n nuwe program wat werklose jeug in George wil bemagtig.
Dié program het afgeskop met ’n gratis kursus wat jongmense help om vir hul leerlinglisensietoets voor te berei. Die eerste 100 aansoekers is vir die kursus aanvaar.
Die Pacaltsdorp-tak het eerste weggespring, gevolg deur die Thembalethu-tak. Volgens die organiseerders het jongmense selfs deur die reën opgedaag om die opleiding by te woon.
Die program fokus onder meer op voorbereiding vir die nuwe digitale tablet-gebaseerde leerlinglisensietoets, wat volgens Impact vir baie jongmense ’n uitdaging is.
Die bestuurspan bied reeds sowat 10 jaar bestuurslesse aan en sê behoorlike kennis van die volledige K53-inhoud is belangrik om die nuwe toets suksesvol af te lê. Van die jongmense wat onlangs met hul hulp geslaag het, het voorheen drie of meer keer onsuksesvol probeer.
Rhyno Davidson, die stigter en aanbieder van die program, by jeugdiges van Touwsranten tydens 'n onlangse uitreik.
Impact se doel strek egter verder as net ’n leerlinglisensie. Die program wil werklose jongmense met praktiese kennis en vaardighede toerus wat hul toegang tot werk en verdere ontwikkelingsgeleenthede kan verbeter.
Die program staan onder leiding van Rhyno Davidson, wat reeds verskeie gemeenskapsprogramme bestuur het.
Weens die groot aantal aansoeke doen Impact ook ’n beroep op ondernemings, organisasies en ander moontlike borge om by die projek betrokke te raak, sodat meer jongmense in die toekoms gehelp kan word. Kontak Ryno by 060 906 3936.
Rhyno Davidson (links) saam met een van die kursusgangers van Thembalethu.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’