GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap-tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (Genealogie SA) bied môre, Woensdag 23 September, ’n spesiale geleentheid aan waarin die lewe en nalatenskap van die legendariese Coenraad de Buys bespreek sal word.
Professor Michael de Jongh, emeritusprofessor in die Departement Antropologie en Argeologie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), sal sy boek oor Coenraad de Buys en sy nageslagte bespreek.
Die aanbieding is die Suid-Kaap-tak se “vlagskip”-geleentheid vir die jaar.
De Jongh het wyd gepubliseer oor onder meer etnisiteit, verstedeliking, tradisionele leierskap, plaaslike regering en menslike mobiliteit.
Van sy ander werke sluit in Roots and routes: the karretjie people of the Great Karoo en The forgotten front - untold stories of the Anglo-Boer War in the Karoo in. Hy woon tans in Plettenbergbaai.
Coenraad de Buys (1761 - 1821) is op ’n plaas in die Langkloof gebore. Sy vader, Jan de Buys, was ’n tweedegenerasie-afstammeling van die Franse Hugenote Jean du Buis en Sara Jacobs.
De Buys het ’n nomadiese bestaan gevoer en was een van verskeie mense van Europese oorsprong wat tydens die grensoorloë die kant van die Xhosas gekies het in hul stryd teen die Boere en later die Britte. Teen die tyd van sy dood was die veelrassige De Buys-familie wyd oor Suid-Afrika versprei.
De Jongh se boek word as een van die mees gesaghebbende werke oor die De Buys-familie in Suid-Afrika beskou en bied ’n besondere blik op die familie se geskiedenis en die invloed daarvan op Suid-Afrika se genealogiese landskap.
Die aanbieding vind om 10:00 plaas by Emmaüs in Memoriamstraat.
RSVP by Selma by 083 283 2171 of Henry by 082 906 7331. ’n Fooi van R30 is op nie-lede van toepassing.
Vir meer inligting, besoek Genealogie SA se webwerf by www.genza.org.za of stuur ’n e-pos aan [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’