GEORGE NUUS - Ná etlike jare se wag vir hul eie huise, is verskeie inwoners van Pacaltsdorp warm onder die kraag oor die optrede van sekere HOP-huiseienaars wat onlangs huise ontvang het.
Sekere HOP-huise in die Beverly Hills-gebied van Reigerpark word na bewering onwettig verhuur of verkoop.
Die huiseienaars trek glo terug na informele nedersettings, dikwels na 'n opslaanhuis in 'n familielid se agterplaas, terwyl hulle wins maak uit hul HOP-huise. Volgens die George-munisipaliteit is dit onwettig.
Wat nóg meer kommerwekkend is, is dat ongelisensieerde spazawinkels en onwettige strukture op dieselfde erwe as die huise, sommige tot teenaan die huise, opgesit en bedryf word.
In sommige gevalle bly die huiseienaar in die huis, maar verhuur glo die erf aan iemand anders om 'n spazawinkel daar op te rig en te bedryf.
Volgens Charly Daman, voorsitter van die Pacaltsdorp Men's- en Pacaltsdorp Women's-gemeenskapsgroepe, en sy onder-voorsitter, Hermen Philander, is hierdie spazawinkels, wat dikwels deur buitelanders bedryf word, onwettig en beskik hulle oor geen goedgekeurde bouplanne of papierwerk nie.
"Hierdie winkels hou 'n ernstige veiligheidsrisiko vir die woonbuurt in. Minderjarige kinders koop reeds sigarette daar. Daar is geen ventilasie, geen vensters, geen geute, geen goedgekeurde planne nie, tog doen hulle besigheid. Hulle kom eenvoudig hierheen en doen wat hulle wil sonder gevolge. Dit is nie 'n free for all nie," het hulle gesê.
"Dit is onregverdig teenoor mense soos ek wat al meer as 20 jaar vir 'n huis wag. Iemand wat regtig 'n huis wil hê en dit sal waardeer. Hierdie mense verhuur hul huise om weer in informele nedersettings te gaan woon, en twee jaar later betoog dieselfde mense weer vir huise. En as ons veranderinge wil aanbring of winkels of ander strukture by ons huise wil oprig, moet ons deur hope administrasie gaan," het Philander gesê.
Mahlatse Phosa, direkteur van beplanning en ontwikkeling, het beklemtoon dat alle begunstigdes van HOP-huise ingelig word dat die huise nie binne agt jaar verkoop of verhuur mag word nie, en dat enige veranderinge goedgekeurde bouplanne vereis.
Die munisipaliteit het ook gevra dat transportbesorgers die oordrag van betrokke huise wat nog nie geregistreer is nie, op ys plaas. Dít beteken dat geen titelaktes uitgereik sal word totdat die ondersoeke afgehandel is nie.
"'n Gedetailleerde verslag sal aan die provinsiale departement van infrastruktuur voorgelê word om die munisipaliteit te lei oor wettige stappe om te verseker dat huise aan dié toegewys word wat dit werklik nodig."
Hierdie struktuur is op die eiendom se grenslyn gebou.
'n HOP-huis en die kant van 'n struktuur wat van die straat af sigbaar is.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’