GEORGE NUUS - Ontsteltenis oor die gedrag van sekere kinders van die Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum in Porterstraat, Denneoord, het weer na vore gekom nadat 'n inwoner gesien het hoe drie seuns glo probeer het om 'n huishulp in Saffraanlaan te beroof.
Charl Smith het aan George Herald gesê die vrou het geskreeu toe die seuns haar begin rondstamp en dreig het.
Die buurtwag het bevestig dat hulle uitgeroep is na die toneel en een van die seuns gekry waar hy in die bos weggekruip het. Die ander twee het weggehardloop en is in hul kamers gevind.
Smith, een van 'n aantal inwoners in die omgewing wat voorheen teenoor George Herald gekla het oor probleme wat met van die kinders ervaar word, het gesê die situasie "het absoluut niks verander nie".
"Dit raak net erger, daar is geen lus van hulle kant om dit te verbeter nie."
Nog 'n inwoner, Abrie van Tonder, wat al vir ongeveer ses jaar 'n verbintenis met die sentrum het deurdat hy kinders oor naweke en vakansies by sy huis inneem, het gesê daar is 'n opening in die sentrum se heining waardeur van die kinders in en uit beweeg.
Hy sê hy het die sentrum daaroor ingelig, maar dit was ná weke nog nie herstel nie.
Ongewenste persone wat dwelms inbring, kry so toegang tot die kinders. "As die heining so lank stukkend gelaat word, kan Môreson nie gesien word as 'n ware veilige hawe vir die kinders nie. Verder word behoorlike dissipline nie altyd toegepas nie."
Eunice Strydom, die ACVV se streek-bestuurder vir die Klein-Karoo, het by navraag gesê, die situasie is op nasionale vlak bespreek. Die nasionale bestuurder van kinderbeskerming, Nicolette van der Walt, asook die direkteur Liezel Meintjes, het die sentrum saam met Strydom op 24 en 25 Mei besoek.
"Hulle skenk aandag op hoër vlak. Môreson self ondersoek moontlikhede om die heining veiliger te maak en kyk ook na hoe dissipline aangepas kan word om positiewe gedrag te bevorder. Die bewerings oor die dwelms word ook ondersoek. Ons besef dit is 'n moeilike en sensitiewe saak en spreek dit aan," het Strydom gesê.
Môreson se bestuurder, Ronell Lindholm, het bevestig dat hulle besig is om lemmetjiesdraad bo-op en rondom die bestaande heining op te sit. Diefwering aan die huise is deel van hul beplanning.
Lees verwante artikels:
- Môreson responds to complaints
- Pleas to Môreson to keep children in check
- Ondersteun Môreson Kinderhuis in George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'