GEORGE NUUS - Net voor jy aan die kant van George na Denneoord ry, kry jy 'n kinderhuis gebêre tussen goud en bruin herfsblare - dis hier waar die rustige Môreson Kinderhuis en Jeugsentrum al vanaf 1917 die gemeenskap van George bedien.
Die kalm, boomryke area was eers 'n huishoudkunde skool vir behoeftige dogters voor dit in 1930 na Môreson vernoem is.
Ronel Lindholm, die huidige bestuurder, het in Augustus 2015 oorgevat. Lindholm, wat self 'n maatskaplike werker was, sê hul werk by die kinderhuis is regtig 'n hartspassie.
Die bestuur en personeel van die tehuis wil net weer die gemeenskap van George bedank vir hul bydrae en terselfdertyd ook vra om nie op te hou om hulle te ondersteun nie. "Ons is niks sonder die wonderlike ondersteuning en oop harte van George se gemeenskap nie. Met die kinderhuis se opkomende basaar hoop hulle, soos elke jaar, dat mense sal opdaag en hulle sal ondersteun of 'n hand bysit.
Lindholm sê daar is 'n paar nuwe dinge soos byvoorbeeld dat elke huis deur 'n kerk oorgeneem is, en die kerke se dames het al van die huise so mooi binne versier. "Ons is ook op soek na vrywilligers wat studiehulp kan aanbied en kinders kan borg wat spesiale talente het," sê Lindholm.
Volgens haar word die kinders elke geleentheid moontlik gegee asook inligting om eendag 'n volwaardige individu te wees voor hulle die wêreld ingaan.
George Herald het verneem dat die kinders soms gereed is om huis toe te gaan omdat hulle terapie kry en lewensvaardighede aangeleer word, maar baie families is nie altyd gereed om hulle te ontvang nie. Lindholm sê meeste van hul kinders kom uit een of ander traumatiese situasie, maar Môreson bied hulle 'n familie en 'n nuwe begin.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'