Update
GEORGE NUUS - Drie mobiele toilette is aan onwettige plakkers van New Dawn Park toegeken.
Hierdie verwikkeling het Dinsdagmiddag plaasgevind, nadat inwoners van die plakkerskamp Moeggehuur langs New Dawn Park Primêr, sedert Maandagaand protesaksies begin het.
Volgens die plakkers is nog 12 toilette aan hulle beloof, maar die inligting is nie bevestig nie.
Plakkers van Moeggehuur het Maandagaand opgeruk na die wyksraadslid Cecil Noble se woning in Pacaltsdorp, en emmers vol rou riool voor sy hek gelos. Hulle is keelvol vir die emmerstelsel wat hulle tot dusver moes gebruik, sedert hul onwettige inname van die grond vroeër vanjaar.
Tydens sy laaste besoek aan George het die vorige minister van menslike nedersettings, Bonginkosi Madikizela, onderneem om die plakkers met toilette toe te rus. Dit het toe nooit gebeur nie.
Inwoners het verlede Vrydag by die departement van openbare werke gaan aanklop om te hoor hoekom daar 'n oponthoud is. Die grond waarop hulle plak behoort aan dié departement.
Jan van der Merwe demonstreer hoe moeilik dit is om met die emmerstelsel reg te kom.
Teen Dinsdagoggend het die protesaksie uitgekring en plakkers het motorbande en vullis in Proteastraat gebrand. Raadslede David Willemse, Edmund Bussack en Mxolisi Nyakati het later die skare kom toespreek en die goeie nuus meegedeel dat hulle opdrag ontvang het om 'n stuk munisipale grond te soek waar toilette vir hul gebruik opgerig kan word.
Teen 17:00 Dinsdagmiddag is daar besluit om 15 mobiele toilette aan hulle toe te ken, waarvan drie afgelewer is.
Die toilette staan tans by verskeie ingange na die plakkerskamp.
Volgens die munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, is amptenare in gesprekvoering met die departement van vervoer en publieke werke om 'n oplossing vir die probleem te vind.
Dalene Valentine en Elandré Laminie, bestuurslede van die Moeggehuur-komitee, het gesê hulle is baie dankbaar vir die moeite wat deur al die rolspelers gedoen is om hulle te help. "Ons het egter nog steeds vrae oor ons heenkome," het Valentine gesê. "Soos ons verstaan sal ons nie permanent hier kan bly nie, ons harte verlang na 'n plek met gedienste erwe waar ons 'n toekoms kan bou. Dit wat die ander raadslede hier kom doen het, wou ons graag van Noble gesien het. Noble laat ander raadslede sy werk doen."
Noble was egter op siekteverlof tydens al die gebeure en sou eers vandag weer terug wees op kantoor. Noble het die plakkers Maandagaand buite sy huis toegespreek en gesê hy sal die bal aan die rol sit en rolspelers vra om die kwessies te bespreek.
Inwoners luister aandagtig na raadslid David Willemse (tweede van regs) terwyl hy die goeie nuus deel. Deel van die groep is Dalene Valentine (tweede van links) en raadslede Edmund Bussack (middel) en Mxolisi Nyakati (heel regs).
Lees vorige artikels:
- Opvolg: Raad soek nou grond vir toilette
- Moeggehuur brand vullis oor toiletsake
- Opvolg: Inwoners met emmers riool vra toilette
- Inwoners met emmers riool vra toilette
- Spoeltoilette vir moeës
- Moeës kan nog ploeg terwyl hulle wag vir Landdros
- Minister vra naamlys
- Plakkers opponeer uitsettingsbevel
- Moeggeploegers staan uitsetting teen
- Nog protesaksie in Proteastraat
- Update: Protests in George
- Grondbesetters bid vir hulp van Bo
- Onderwysers het nié gevlug
- New Dawn Park nou rustig
- Bande brand weer in Proteastraat
- Seaview vat blaaskans na protesaksie vanoggend
- Illegal squatters block Beach Road
- Tyres set alight in Pacaltsdorp
- Polisie onttrek van toneel in Bluegumstraat
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'