Update
GEORGE NUUS - Die onwettige grondbesetters van Moeggehuur, 'n plakkerskamp langs New Dawn Park Primêr in Pacaltsdorp, het nog 'n blaaskans tot einde Augustus alvorens hulle hul lot aanhoor. Die grond behoort aan die departement van openbare werke en is geoormerk vir die bou van 'n nuwe skool.
Die aansoek om 'n uitsettingsbevel (Pie-aansoek) om die grondbesetters te verwyder, is Dinsdag 26 Maart in die Kaapse hooggeregshof aangehoor.
Adv. Stephan Kleynhans, wat namens die grondbesetters verskyn, het die aansoek geopponeer. Die hof het gelas dat Kleynhans sy hofstukke moet liasseer, waarna die applikante - die departemente van openbare werke en onderwys - daarop moet antwoord. Beide Kleynhans en die applikante moet hul regsargumente teen Mei indien. Die saak word op 29 Augustus in die Kaapse hooggeregshof geargumenteer.
Kleynhans het aan die George Herald gesê hy kan nie verstaan hoekom die munisipaliteit nie vir die mense grond gee soos deur die regering belowe word nie.
"Ons bly nie in Engeland waar daar nie grond is nie, waar hulle bo-op mekaar moet bou nie. Hier is baie grond in George. Daar is oorgenoeg staatsgrond. Hoekom kan die munisipaliteit nie gaan kyk na hulle grond en opsny in eenhede van 500 m² nie? Die mense plak reeds sonder dienste. Dit gaan oor grond.
"Baie van my kliënte sal self sorg vir dienste, hulle soek net grond. Dit maak nie vir my sin nie. Baie is bereid om hulle eie huise te bou en hul eie water op te vang en sonkrag te gebruik. Hierdie munisipaliteit kan binne 'n week kyk wie kwalifiseer en grond vir 'n klomp mense gee." Kleynhans het by navraag gesê hy word deur sy kliënte, die grondbesetters, uit hul eie sakke betaal.
Tydens 'n betoging in New Dawn Park op 14 Maart het hierdie groepie vriende koffie gedrink by een van die plakkershutte in Moeggehuur, 'n plakkerskamp langs New Dawn Park Primêr. Van links is Lezandré Johnson (4), Veronica Rooi, Lizette Johnson van Moeggeploeg ('n plakkerskamp in Seaview), Alronicia Johnson (12) en Beatrice Saaiman.
'n Ma van een van die inwoners sit handjie by om haar dogter se plakkershut in Moeggehuur netjies te hou. Foto's: Michelle Pienaar
Lees vorige artikels hier:
- Moeggeploegers staan uitsetting teen
- Nog protesaksie in Proteastraat
- Update: Protests in George
- Grondbesetters bid vir hulp van Bo
- Onderwysers het nié gevlug
- New Dawn Park nou rustig
- Bande brand weer in Proteastraat
- Seaview vat blaaskans na protesaksie vanoggend
- Illegal squatters block Beach Road
- Tyres set alight in Pacaltsdorp
- Polisie onttrek van toneel in Bluegumstraat
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'