Update
GEORGE NUUS - Te midde van 'n vreedsame protesoptog deur lede van die George Community Forum (GCF) verlede Donderdagoggend, het gewelddadige betogings terselfdertyd in New Dawn Park, in Pacaltsdorp, opgevlam.
Die openbare orde polisie-eenheid (Pops) en 'n string polisievoertuie het hul na Proteastraat in New Dawn Park (NDP)gehaas. George-verkeer en brandweerdiens het die toneel verlaat nadat hulle met klippe bestook is. Skote het geklap en onderwysers van New Dawn Park Primêr het hul motors na die agterkant van die skoolterrein verskuif. Proteastraat is aan albei kante met brandende bande blokkeer. GO GEORGE-busse wat op die New Dawn Park-roete gery het, het die gebied verlaat.
Nadat alles afgekoel het, is die area vir die res van die middag deur die polisie gepatrolleer. Inwoners het in groepies in Proteastraat rondgestaan, met slegs swart oorblyfsels van die bande wat vroeër die oggend gebrand is.
Die betogings het die hele gemeenskap van New Dawn Park geruk. In die plakkerskamp Moeggehuur, langs New Dawn Park Primêr, het grondbesetters 'n gebedsirkel gevorm. Ofskoon heelwat inwoners van NDP die betogings ondersteun, sê Dalene Valentine van Moeggehuur hulle het niks met die protesaksie te doen nie. "Ons weet nie met sekerheid waaroor hierdie betogings gaan of wie dit begin het nie, maar elkeen het hul eie griewe."
Apostel Frank McKenzie (rooi hemp, derde van links), en 'n groep inwoners, waaronder skoolkinders, vergader in Proteastraat, New Dawn Park, verlede Donderdag na betogings vroeër die oggend. Foto's: Michelle Pienaar
Apostel Frank McKenzie, 'n inwoner van New Dawn Park, het aan die George Herald gesê dit lê hom na aan die hart om te sien dat die bruin gemeenskap ook kan begin saamstaan.
"Dit is net hartseer die manier waarop mense hanteer word wanneer hulle hul misnoeë uitspreek, net omdat hulle ook 'n huisnood het," het hy gesê. "Dan word hulle soos misdadigers uitmekaar gejaag wat glad nie in die swart buurte gebeur nie."
Kommentaar van George-munisipaliteit in die verband word afgewag.
Lees vorige artikels hier:
- Update: Protests in George
- Grondbesetters bid vir hulp van Bo
- Onderwysers het nié gevlug
- New Dawn Park nou rustig
- Bande brand weer in Proteastraat
- Seaview vat blaaskans na protesaksie vanoggend
- Illegal squatters block Beach Road
- Tyres set alight in Pacaltsdorp
- Polisie onttrek van toneel in Bluegumstraat
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'