Update
GEORGE NUUS - Die drie broers van Parkdene, wat van die moord van Ruduwaan Damons (25) aangekla word, het op Vrydag 17 Februarie in die George-landdroshof verskyn vir twee van hulle se borgtogaansoeke.
Perswill Dickens, Sylvester en Jason Pretorius, wat vroeg in Januarie in verband met Damons se moord vasgetrek is, is in aanhouding sedert hulle inhegtenisname.
Slegs die twee Pretoriusse het borgtog-aansoeke gebring. Die staat het borgtog teengestaan.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is die polisie omstreeks 13:15 na die toneel in Golfstraat, Parkdene, uitgeroep.
Met die polisie se aankoms op die toneel is die oorledene met 'n steekwond aan sy bors gevind. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Die drie verdagtes is later die dag in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Moord was glo beplan
Die verdagtes word almal aangekla van moord met voorbedagte rade na al drie glo by die moord betrokke was en dit beplan het.
Sylvester Pretorius (40) se verklaring is deur sy regsverteenwoordiger, Winston Jansen van Jansen & Samson Attorneys, op rekord ingelees. Daarna het Pretorius self agter die getuiebank ingeskuif.
Volgens Pretorius is hy 'n pa van vyf klein kindertjies en die enigste broodwinner. Hy besit 'n huiswinkel en eiendomme wat hy uitverhuur. Volgens hom bly vier van die kinders by hom en hy ondersteun hulle en hul ma, finansieel. Hy het aangedui dat hy onskuldig gaan pleit op die aanklagte teen hom.
Hy het 'n vorige veroordeling van aanranding en daar is tans 'n hangende saak teen hom in die George-streekhof. Hier staan hy tereg op twee aanklagte van poging tot moord, verskeie aanklagte van dwelmhandel en diefstal.
Struweling lei tot moord
Tydens sy getuienis het Pretorius erken dat hy op die toneel was tydens die moord op Damons, maar dat hy geen betrokkenheid by die voorval self gehad het nie. Hy het aan die hof gesê dat Dickens vir Damons tydens 'n bakleiery doodgesteek het.
Pretorius sê hy het 'n mes uit hulle hande gegryp en gebreek terwyl die twee baklei het.
Die damwal het glo gebars toe hy en Damons besig was om oor kwessies rakende Dickens en Damons, te gesels. Al drie broers was volgens hom op die toneel.
Hy sê hulle het rustig gesels totdat oproerige lede van die gemeenskap die perseel binnegekom het en dreigemente begin maak het. Tydens sy getuienis het hy gesê sy rug was gedraai toe Dickens en Damons begin baklei het. "Ek het net gehoor iemand sê 'hulle het hom gesteek'," sê hy. Dis toe dat hy glo die mes uit die twee se hande gryp, dit breek en vir 'n omstander gee om te hou.
Die staat staan borgtog teen en beweer dat Pretorius 'n dwelmhandelaar in die omgewing is en die getuies sal intimideer. Volgens die staat het hy reeds 'n geskiedenis van geweld, korrupsie en ander ernstige misdrywe.
Die staat beweer dat Dickens se broers vir Damons vasgehou het terwyl hy hom met 'n mes gesteek het.
Weens beurtkrag kon die borgtog-aansoek nie voltooi word nie en is die saak tot 13 en 14 Maart uitgestel.
Advokaat MP Heyns is vir die staat en die saak dien voor landdros Thiloshnie Govender.
Die broers het almal dieselfde ma en pa, maar Dickens is gebore voordat sy ouers getroud is, dus het hy sy ma se van.
Gemeenskap tree op
Ná die broers in hegtenis geneem is, het lede uit die gemeenskap opstandig geword en een van Dickens se huise afgebrand.
Volgens inligting het meer as 500 mense aan die aksie deelgeneem. Dickens se huis is met petrolbomme bestook en die Openbare Orde Polisie (Pops) moes intree.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'