Update
GEORGE NUUS - Die naam PW Botha maak uiteenlopende emosies wakker onder inwoners. Nadat George Herald verlede week berig het dat Abrie de Swardt, jare lange inwoner, vra dat daar darem iets van wyle Botha behoue moet bly ter wille van die groot bydrae wat hy tot George gelewer het, het mense sterk standpunt ingeneem.
Verskeie mense het op die koerant se Facebook-blad gereageer en duidelik is daar twee kampe: die daarvoor en die daarteen.
De Swardt se pleidooi het gekom nadat PW Botha Kollege onlangs besluit het om die skool se naam te verander na die Hoër Tegniese Skool Eden.
Daarna het dit ook bekend geword dat pogings aangewend word om die naam van PW Botha-boulevard in die nywerheidsgebied te verander.
Gesiena du Preez het op Facebook haar steun vir De Swardt se pleidooi gegee: "Ek stem volkome saam" en Helen Harper senior ook: "Absoluut."
Marius Pelser het geskryf dat Botha baie vir die gemeenskap van George gedoen het en Magda van der Westhuysen het geskryf dat sy saamstem, ofskoon sy nie 'n ondersteuner van Botha was of is nie.
Hilton Wildemans het opgemerk: "Ek stem... Vir geskiedenis doeleindes."
Ricardo Moolman het geen twyfel gelaat oor hoe hy dink nie: "Hy moet march."
Kelvin Solomons het gewonder of dit nie 'n grap is nie. Dis 13 Februarie en nie 1 April nie.
John Ranna het onder meer geskryf: "Al sou hy 100 hospitale en 200 lughawens goedgekeur het of wat ook al vir die ekonomie van die dorp beteken het.. hy het ons onderdrukking goedgekeur.. en so sal ons dit sien."
Jacobus Gertse het onder meer voorgestel dat mense wat wil hê dat iets van Botha behou moet word of vereer word, moet in die woongebied of lokasie kom woon soos dit voorgehou was en tot vandag nog geïnterpreteer word. Voorts moet sulke mense hul luukse motors vir die ander mense gee en dan gebruik maak van openbare vervoer/taxi's.
Dan na 30 tot 40 jaar kan almal om 'n tafel gaan sit en die pad vorentoe vir alle Suid-Afrikaners bespreek en kleur uitsluit.
De Swardt het Dinsdag gesê hy het kennis geneem van die verskillende standpunte. Hy het nie Botha se politieke optrede verdedig nie.
"Ek het bloot na hom as mens verwys en dat hy opgetree het in die belang van George. Ons streef na goeie samewerking in Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Elke gemeenskap moet sy standpunt kan stel.
"Ek beoordeel hom vir wat hy gedoen het om George te laat groei en ontwikkel," het De Swardt gesê. "Dit het daartoe gelei dat George die ekonomiese sentrum van die Suid-Kaap geword het.
"Ons moet mekaar nie bedreig nie - al het ons verskillende standpunte. Ons moet kan verskil op 'n beskaafde wyse."
Verwante artikels:
- 'PW het baie vir George gedoen'
- PW Botha straatnaam moet verander
- HTS Eden trots op nuwe naam
- Opvolg: Nuwe naam vir PW Botha Kollege
- Nuwe naam vir PW Botha Kollege
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'