Update
GEORGE NUUS - PW Botha Kollege gaan voortaan bekend staan as Hoër Tegniese Skool Eden | Eden Technical High School, of in kort, HTS Eden.
Die naamsverandering is gister op Facebook bekend gemaak deur die hoof, Pieter Myburgh.
“Die verandering was ‘n lang proses wat al reeds vir drie jaar aan die gang is," het hy gesê.
Dit was nie net die kontroversie rondom die PW Botha naam wat aandag moes geniet nie. Myburgh sê die skool het in die verlede leerders verloor omdat die word “Kollege” mense verwar het.
“Wat ‘n groot rol in die naamsverandering gespeel het, is die feit dat ons ‘n tegniese skool is, en dat die naam dit moet weerspieël.”
Dit het al dikwels gegons in George oor hoekom dit so lank neem om die naam te verander, en omdat talle groeperings en individue aangedring het dat die ontslape apartheidspresident, PW Botha se naam verwyder word, kan niemand krediet vir die naamsverandering opeis nie.
Inteendeel, die skool wou voorheen hul naam verander het, maar het baie teenkanting van ouers gekry.
Myburgh sê die naamsverandering kom na vele insette van ouers, leerders, onderwysers, oudleerdeers en ander rolspelers.
Hy sê veranderinge rakende die naam op skooldrag en so meer, sal stelselmatig plaasvind.
Lees 'n vorige artikel: Nuwe naam vir PW Botha Kollege
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'