Update
GEORGE NUUS - Die Hoër Tegniese Skool Eden (HTS Eden) in George is trots op hulle nuwe naam. Pieter Myburgh, skoolhoof by HTS Eden, voorheen PW Botha Kollege, sê die proses om die naam te verander was lank en het baie teenkanting van ouers ontvang.
Die afgelope drie jaar moes hulle harte sterk wees vir die verandering wat kom.
Myburgh vertel hulle wou die skool se naam jare terug al verander het, maar met teenkanting en geen leiding oor hoe om te werk te gaan nie, is dit daargelaat. Sowat drie jaar gelede het die skool baie politieke druk gekry om die naam te verander en die skool het toe met die proses begin.
"Ek was by die plaaslike distrikskantoor om uit te vind wat gedoen moet word. Niemand kon my regtig help nie."
Dir het onder plaaslike politici begin gons oor die skool steeds 'n apartheidsleier se naam dra. Myburgh sê hulle was toe reeds lank in gesprek oor die nadele van die naam, maar ook dat dit as 'n kollege bekend is. Hy sê hulle het baie leerders verloor omdat mense gedink het dis 'n kollege, nie 'n hoërskool nie.
Een van die hoofredes vir die naamsverandering was om weer die woord "tegnies" terug te bring. Die skool het honderde voorstelle gekry van ouers, leerders, oudleerders en die publiek.
"Uit die honderde name was daar 'n paar wat uitgestaan het. Ons het drie opsies gekies."
Myburg sê toe hy die matriekuitslae wou afteken, kon hy nie die skool se naam op die lys kry nie. Dis toe dat hy uitvind die skool se naam is verander en goedgekeur.
Virgill Gericke van die PBI sê toe hulle in 2016 die verwydering van die PW Botha-naam aangespreek het, was daar geen proses om dit te doen nie. Gericke het die skoolhoof, beheerraad en leerlinge gelukgewens met die dapper besluit om 'n einde te bring aan die herinneringe aan 'n donker era in die geskiedenis van Suid-Afrika.
Ook Brendan Adams, 'n plaaslike Khoi-San leier, het sy gelukwensing gedeel met die skool en beheerliggaam. Hy sê die Khoi-gemeenskap van George is egter teleurgesteld dat die skool se beheerraad nie die Khoi-name wat hulle voorgestel het, gebruik het nie. "In ons brief van 19 September het ons verskeie voorstelle gemaak asook 'n Khoi-woordeboek met name gestuur. Maar ons is baie bly vir die wegvat van 'n Apartheidsargitek se naam."
Bronagh Hammond, WKOD se woordvoerder, sê hulle het die skool se brief oor die naamsverandering op 22 November ontvang.
Hammond sê die proses word deur die skool geïnisieer deur 'n besluit van die beheerliggaam wat die departement net moet goedkeur. Die beheerliggaam het op 11 November besluit om as Hoër Tegniese Skool Eden / Eden Technical High School bekend te staan. "Die verandering is gemaak om die fokus as tegniese skool in die naam te reflekteer."
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'