Update
GEORGE NUUS - Die Mosselbaaier, Ivan Kent (33) wat erken het dat hy in Januarie 2018 'n sakeman, Jannie Venter, by sy ingenieursfirma in George aangerand het, is Donderdag 7 Oktober in die George-streekhof gevonnis.
Kent, sy pa, Lionel en broer Divan, is aanvanklik al drie aangekla, maar die aanklagte teen sy pa en broer is later teruggetrek ná Ivan ten volle skuld erken het.
Die drie het na bewering 'n geskil oor uitstaande geld met Venter gehad. 'n Rusie het ontstaan en Venter is aangerand. Ivan het ná die aanranding in die slagoffer se wit Isuzu-bakkie gespring en van die toneel in die rigting na Mosselbaai gejaag.
LEES MEER: Trio se verhoor begin in Augustus
Hy is later dieselfde dag, ná 'n jaagtog met die polisie op die N2 tussen George en Mosselbaai, vasgetrek.
Sy pa en broer is ook kort na die voorval in hegtenis geneem.
Tydens sy formele borgtogaansoek in 2018 het dit aan die lig gekom dat Ivan 'n depressielyer is en daagliks medikasie moet neem.
Volgens hom het Venter hom ook vir drie maande nie betaal nie. Hy het aan die hof gesê hy besef dat wat hy gedoen het verkeerd was, maar hy was paniekbevange en nie homself daardie dag nie.
LEES MEER: Trio se saak finaal vir 'n streekhofdatum uitgestel
Ivan, wat deur Winston Jansen van Jansen & Samson Prokureurs verteenwoordig is, is deur landdros Emma Moloro tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis ná hy op aanklagte van ernstige aanranding, motordiefstal en roekelose en/of nalatige bestuur, skuldig bevind is.
Hy sal sy vonnis in Rustenburg uitdien. JJ Marx het die staat verteenwoordig.
Jannie Venter is op 30 Januarie 2018 aangerand en vir dood gelos.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'