Update
GEORGE NUUS - Vier jaar na sy laaste oortreding is plaaslike tandarts, Ian Venter (47), Donderdag 28 Februarie in die George-streekhof gevonnis. Hy is op 11 April 2018 skuldig bevind aan seksuele aanranding van 'n minderjarige ná hy in 2015 'n 13-jarige seun, wat by sy huis in Heroldsbaai oorgeslaap het, seksueel betas het. Die kind het na die voorval huis toe gehardloop.
Streeklanddros Francis Makamandela, wat Venter tot drie jaar direkte tronkstraf gevonnis het, het tydens vonnisoplegging gesê dat sy alle aspekte in ag geneem het en dat direkte tronkstraf die enigste geskikte vonnis is. Sy het gesê dat Venter se vorige vonnis van korrektiewe toesig, duidelik nie die gewenste uitwerking gehad het nie.
Makamandela het daarop klem gelê dat die hof egter álle kinders moet beskerm en in ag neem. Dit sluit die slagoffer, sowel as die beskuldigde se kinders, waarvan twee minderjarig is, in. Direk ná vonnisoplegging het Venter teen die vonnis geappelleer, maar Makamandela het die aansoek verwerp.
Pille glo gevat
Volgens 'n betroubare bron is sowat 100 anti-depressante tydens inspeksie, voor hy na die aanhoudingselle geneem is, in Venter se sokkies gevind.
Vorige vonnis
Venter is in November 2014 tot vier jaar korrektiewe toesig gevonnis. Hy is in September daardie jaar skuldig bevind dat hy in Desember 2011 seks met 'n 15-jarige seun gehad het. Slegs vyf maande na hy vir die eerste oortreding skuldig bevind is, het hy die tweede oortreding begaan. Die ouers van sy 2011-slagoffer, van Pretoria, het gereeld die onlangse hofverrigtinge bygewoon.
"Ons sal baie graag met hulle in kontak wil tree. Die feit dat hy drie jaar gekry het laat ons nie regtig beter voel nie, maar ten minste is ander kinders nou veilig. Dit vat nie weg wat hy gedoen het nie en dit vat nie die seer weg nie. Daar was nooit eers 'n jammer nie. Dis bitter moeilik om so iets te aanvaar en dis hoekom ek so graag met die ander kind se ma wil praat. Dalk kan ons mekaar 'n bietjie vertroosting gee," het die eerste slagoffer se ma aan George Herald gesê.
Joanne Barrett (regs), woordvoerder van WMACA, saam met twee ondersteuners, Anthony en Chantal Beaky voor die hof ná Venter gevonnis is. Foto: Kristy Kolberg
Aktiviste ontevrede met vonnis
Woordvoerder van Women & Men Against Child Abuse (WMACA), Joanne Barrett, het haar misnoeë oor die vonnis uitgespreek.
"Hoewel ons baie geskok is oor die kort vonnis, veral aangesien dit sy tweede oortreding was, is ons gelukkig dat hy wel direkte tronkstraf gekry het," het sy gesê. Hankie Marx het vir die staat opgetree en John Gillespie, van John Gillespie-prokureurs, het Venter verteenwoordig.
Hangende saak
Een van Venter se voorwaardes tydens sy korrektiewe toesig-vonnis, was dat hy nie kinders mag behandel nie. Hy is egter in Mei 2017 by sy praktyk in die middedorp in hegtenis geneem na dit aan die lig gekom het dat hy steeds kinders behandel. Hy verskyn op 4 April weer in die Thembalethu-streekhof op aanklagte van minagting van die hof.
Lees vorige artikels hier:
- Ian Venter se appélaansoek geweier
- Tandarts Ian Venter kry tronkstraf
- Venter moontlik Donderdag gevonnis
- Vonnisdag vir tandarts kom nader
- Nóg 'n uitstel in tandarts-saak
- Venter-vonnis gaan volgende jaar voort
- Tandarts se vonnis wéér uitgestel
- Ian Venter: Vonnisverrigtinge uitgestel
- Dr Ian Venter: Vonnisoplegging begin
- Streekhofdatum vir tandarts Ian Venter
- Tandarts na streekhof vir minagting
- Tandarts se lot in April bepaal
- Dentist case progression like pulling teeth
- Venter-saak: Uitspraakdatum in 2018 vasgestel
- Opvolg: Ian Venter-saak
- Saak teen Ian Venter uitgestel
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'