Update
GEORGE NUUS - Die man wat daarvan beskuldig is dat hy sy eksmeisie, Leonie Williams (29) voor haar 6-jarige seun op Vrydag 16 Oktober 2020 in Rosedale vermoor het, is oorlede.
Elton Veldman (46), wat sedert sy inhegtenisname kort na die voorval in aanhouding was, is op Maandag 1 Maart in die George-hospitaal oorlede na hy verskeie kere vantevore opgeneem en ontslaan is.
Volgens 'n woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, Singabakho Nxumalo, het Veldman asemhalingsprobleme opgedoen waarna hy op 28 Februarie by die George-hospitaal opgeneem is.
Volgens 'n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, gaan die moordsaak voort ten spyte van Veldman se dood aangesien daar 'n tweede verdagte, Renaldo van Rooyen, in die saak is.
"Hoewel die beskuldigde [Veldman] wat glo die oorledene [Williams] gesteek het nou ook oorlede is, sal sy medebeskuldigde [Renaldo van Rooyen] steeds teregstaan op aanklag van moord," het Ntabazalila by navraag gesê.
Die voorval
Williams en haar seun, Veldman se kind, het vir die naweek by hom in Rosedale gekuier toe die voorval plaasgevind het.
In daardie stadium was hy die enigste verdagte, maar op Donderdag 21 Januarie vanjaar, is daar nog 'n verdagte van Rosedale, Van Rooyen (30) in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Destyds het die polisie gesê dat die voorval na bewering in die vroeë oggendure op Vrydag 16 Oktober in 'n woning in die Rosedale-plakkerskamp plaasgevind het.
Die beskuldigde en die oorledene het glo baklei terwyl hul 6-jarige seuntjie in die vertrek saam met hulle was.
Tydens die bakleiery het die oorledene na bewering die verdagte met 'n mes probeer steek waarna die verdagte die mes by haar gevat het en haar verskeie kere gesteek het. Sy het aan veelvuldige beserings beswyk terwyl haar jong seun toegekyk het.
Veldman is kort daarna in hegtenis geneem met 'n Okapi-mes in sy besit.
Vorige arikels:
- Tweede verdagte vas in Rosedale-moord
- Gedenkdiens vir Leonie in Rosedale gehou
- Jong ma voor kind vermoor
- Man accused of murdering pregnant ex-girlfriend
- Protest against bail of murder suspect
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'