Update
GEORGE NEWS - Die man wat skuldig bevind is op aanklag van strafbare manslag ná die dood van sy vriendin, Mynéll de Jongh (28), is vandag in die Thembalethu-streekhof deur landdros Pumela Yono gevonnis.
Marshall Campbell (30) het op Vrydag 18 Januarie erken dat hy en De Jongh op 26 Maart 2017 in 'n argument betrokke was waarna hy haar met ‘n mes in haar kuit gesteek het. Hy het op aanklag van strafbare manslag skuldig gepleit.
Volgens sy verklaring, wat deur sy regsverteenwoordiger aan die hof voorgelees is, was dit nie met voorbedagte rade nie. Hoewel Campbell se regsverteenwoordiger vir korrektiewe toesig gevra het, het Yono Campbell tot ses jaar direkte tronkstraf gevonnis.
Campbell het aangedui dat hy appèl gaan aanteken.
Vonnisoplegging
Tydens vonnisoplegging het Yono, Campbell se vorige veroordelings asook die feit dat De Jongh twee minderjarige kinders agterlaat, in aanmerking geneem.
Sy het gesê dat sy van Campbell ‘n voorbeeld wil maak om aan die gemeenskap en potensiële misdadigers te wys dat reg en geregtigheid steeds geskied.
“Deesdae gebeur dit te maklik dat vrouens in ‘n verhouding mishandel word en dit lei telkens daartoe dat hulle deur hulle mans of kêrels aangeval word. Ek wil dit voorkom.”
Moord of strafbare manslag
Na 'n onlangse artikel op die George Herald se webblad het dit aan die lig gekom dat daar onduidelikheid by lesers is waarom 'n beskuldigde, wat iemand se dood veroorsaak het, skuldig bevind kan word aan strafbare manslag en nie moord nie. Die koerant het vandeesweek by plaaslike regsgeleerde, Charl Marais van JS Marais Inc, aangeklop om die verskil van dié twee terme uit te klaar.
Volgens Marais is die belangrikste verskil tussen hierdie twee misdade die opset van die beskuldigde.
Moord
Indien 'n beskuldigde die opset of bedoeling het om 'n persoon dood te maak en dan inderdaad daardie persoon om die lewe bring, sal hy in die gewone loop van sake skuldig wees aan moord. 'n Eenvoudige voorbeeld sou wees waar iemand 'n persoon met 'n mes steek omdat hy daardie persoon wil doodmaak. Dit maak nie saak of die persoon in die hart of in die toon gesteek word nie - as hy sterf weens sy wonde is die aanvaller skuldig aan moord.
In die Suid-Afrikaanse Reg sal 'n persoon ook skuldig wees aan moord indien hy besef dat sy optrede moontlik tot iemand se dood mag lei en hy besluit om steeds met sy optrede vol te hou. 'n Voorbeeld sou wees waar 'n persoon 'n hotel aan die brand steek terwyl hy weet dat daar gaste in die hotel is. Indien hy besef dat die brand tot die gaste se dood mag lei, vrede daarmee het en daardie brand dan wel 'n gas dood, sal die brandstigter aan moord skuldig wees.
Strafbare manslag
Waar 'n beskuldigde nie bedoel het om iemand dood te maak nie, en ook nie besef het dat sy optrede tot iemand se dood kan lei nie, mag 'n hof bevind dat daardie beskuldigde skuldig is aan strafbare manslag as die beskuldigde nalatig opgetree het.
Die hof moet homself afvra of (1) 'n redelike persoon in dieselfde omstandighede sou voorsien dat die optrede tot iemand se dood kan lei, (2) of 'n redelike persoon stappe sou geneem het om dood te voorkom en (3) of die beskuldigde anders opgetree het as wat 'n redelike persoon in die omstandighede sou voorsien en gedoen het.
As die beskuldigde anders opgetree het as wat die redelike mens sou, was hy nalatig. As sy nalatige optrede iemand se dood veroorsaak het, is hy skuldig aan strafbare manslag en nie moord nie. Met ander woorde, indien 'n persoon iemand met 'n mes steek sonder dat hy bedoel om hom dood te maak, maar 'n redelike mens sou voorsien het dat om iemand met 'n mes te steek sy dood mag veroorsaak en dit dan eerder nie doen nie, sal die aanvaller skuldig wees aan strafbare manslag.
Lees vorige artikels hier:
- Skuldig aan manslag na vriendin se dood
- Man skuldig aan strafbare manslag na vriendin se dood
- Moord: Verhoor begin in Januarie
- Moordverdagte het 'nie gevlug nie'
- Polisie op soek na moordverdagte
- Mans voor vir vriendinne se moord
- Jong ma's glo deur kêrels vermoor
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'